In die skoene van mevrou Heckmair
In die skoene van mevrou Heckmair

In die skoene van mevrou Heckmair

[email protected]
Andrew Poolman
Hoe erg moet dit nie vir jou wees nie. Hier, in dieselfde hofvertrek as die twee vuil getatoeëerde mans wat moontlik jou seun vermoor het.

Hier, in die getuiebank waar jy gedwing word om deur sy foto’s te blaai. Die foto’s wat van jou seun se rekenaar afgelaai is. Foto’s van jou seun en almal wat hy geken het. Die oorblyfsels van ’n lewe wat stomp, voortydig en onregverdig beëindig is.

Met elke foto vra die staatsaanklaer vir jou om die mense uit te ken en herhaal elke keer: “Were you present when this photo was taken?”

Ek wonder. Hoe sink jou hart met elke ‘nee’? Wens jy met elke foto dat jy ‘ja’ kon antwoord? Herinner dit jou aan verlore oomblikke wat nooit teruggewen kan word nie?

’n Terugflits na jul familievakansie in Zambië. Ek kan my net indink hoe onopgemerk daardie kosbare oomblikke verbygegaan het en hoe dit vandag so ná aan jou hart moet lê.

Ek bewonder hoe sterk jy is. Hoe goed jy jouself dra, want dit kan nie maklik wees nie. Maar ek dink ek verstaan. Jy doen dit vir hom, vir jóú seun. Hy wat vir altyd jou seun moes wees tot die dag wat jy moes groet – nie hy nie.

Jy huil nie, maar naderby merk ek op die tranige blink in jou oë en die kussings onder hulle.

Ek ken jou nie. Ek sien jou vandag vir die eerste keer en ek wonder waarom jy my emosies so oproep. Ek is nie ’n ma nie en ek sal op des aarde nooit jou pyn kan begryp nie, maar ek kan nie hier sit en nie iets voel nie.

Wat is dit wat ek voel? Medelye? Jammerkry?

Wat is dit wat jy voel?

Het jy reeds vrede gemaak of brand die haat, die seer, die ongeloof nog binne jou? Ek wonder.

Hy is al nege jaar lank weg.

Amper ’n dekade terug is André van jou weggeneem en die hofstryd woed voort om iemand daarvoor aanspreeklik te hou. Om iemand te laat betaal vir dit wat aan jou seun gedoen is. Die man agter die sneller wat ’n koeël koudbloedig in jou seun se hoof ingestuur het, is nog nie skuldig bevind nie. Hoe moet dit nie aan jou vreet nie?

Hoewel ek vermoed dat jy dit seker tot ’n mate begin aanvaar het, is ek seker die rou sit nog vlak. Hoe dan anders? Hy was tog jou seun – jou enigste seun.

Jou dapperheid herinner my aan my eie ma. Sy is ook ’n sterk vrou. Sal sy ook eendag dit moet doen wat jy vandag in hierdie hof moet trotseer? Die gedagte is hartverskeurend.

Ek sal daar wil wees. As gees, engel of spook. En ek sal vir my geliefde ma glimlag. Ek sou langs haar staan met my arm om haar skouer en met elke oomblik waar sy struikel, sal ek vir haar ’n stywe druk wou gee. ’n Drukkie van bemoediging en waardering.

En mevrou Heckmair – ek kry die gevoel dis presies wat André doen.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer