Immer hoop vir 'n geknelde land
REGGIE DIERGAARDT SKRYF:
Ek het my lewe lank optimisties probeer leef. Wou altyd maar positief wees. Die goeie in die mensdom sien.
Deesdae raak dit egter moeiliker, maar steeds nie onmoontlik nie. Daar is ‘n meesterplan met die soet en suur van die lewe, en ons hoef dit nie altyd te verstaan nie. My intense belewenisse van gebeure gedurende die onlangse verlede bevestig hierdie ongemaklikheid.
Elke keer dat die regering nie sinvolle antwoorde op hulle sinnelose wandade kan verskaf nie, word die lyk van apartheid maar net nog ‘n skop gegee. Die heersersklas hou ons gevange in die ou kultuur van vrees en retoriek. En so beheer hulle ons terwyl hulle hulself verryk.
Armes word verkrag, terwyl ons soek daarna om verby vandag se wanorde na iets wat weer lyk na ‘n hoopvolle toekoms te worstel. Ons samelewing se nate is besig om los te torring.
Die vraag is steeds: Te midde van die gewigtigheid van die oomblik met sy troostelose vooruitsigte van ons nasionale leiers, waar vind ek hoop?
Mede-Namibiërs, ek besef al te goed dat u eerlik verontreg voel. U wrokkige verontregtheid verstaan ek maar al te goed. Daardeur verstaan ek ‘n versugting dat vrede meer moet inhou as ‘n oorlogsvrye situasie.
Ons moet egter bly glo dat die goeie altyd sal seëvier. Geen leuen is standhoudend nie, en ten spyte van die gelaaide meerderheid, moet en sal die waarheid oorwin.
Dis jammer dat die elite sammstem met die Franse filosoof Diderot dat die mens nie vry sal wees voordat die laaste koning verwurg is met die derms van die laaste priester nie.
My onbetwiste argument is dat die see van armoede, ontnugtering en ontmoediging besig is om die uitermate en onbeheersde hoogwatermerk te bereik, terwyl die tou van siellose, ongenaakbare, gulsige, gewetenlose, korrupte kripvreters daagliks kommerwekkend aangroei.
Ek bid dat Namibiërs verlos sal word van ‘n geslag van futlose, selfsugtige, kortsigtige, visielose leiers wat lank gelede reeds die swaarverdiende erfgoed van ons nageslag roekeloos verkwansel het en die morele kompas van ons nasie vir ‘n pot lensiesop verbeur het.
Die daeraad van ‘n nuwe toekoms bly steeds ‘n onafwendbare werklikheid. Dit bly die versoberende idee, hoe vreemd gerusstellend ookal.
Ek glo met kinderlike geloof in ‘n nuwe more, en ek droom onverpoosd dat geregtigheid en vrede hul plek op die troon van ons geliefde, geknelde land sal inneem.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie