ICT-diens vir stad op die spel
ICT-diens vir stad op die spel

ICT-diens vir stad op die spel

Paratus maak kapsie teen CRAN se toekenning van 'n omvattende lisensie aan Windhoek se munisipaliteit.
Augetto Graig
Augetto Graig – Insette oor die Windhoek-munisipaliteit se toekenning van 'n omvattende telekommunikasie-diensleweringslisensie deur die Regulerende Owerheid vir Kommunikasie van Namibië (CRAN) word nog tot Dinsdag 16 Junie aanvaar.

CRAN is deur Paratus Telecommunications genader om hul besluit oor die toekenning te heroorweeg. Lede van die publiek mag hul mening deur geskrewe kommentaar per e-pos aan [email protected] rig. Geskrewe insette kan ook by Communications House, 56 Robert Mugabe-rylaan, Windhoek, afgelewer word.

Die lisensie is 'n hupstoot om die hoofstadowerhede se ambisie te bewaarheid om 'n groter inkomste uit sy telekommunikasie-infrastruktuur te skep. Paratus het egter 'n lys besware met die aansoek om die lisensie uitgewys en is gekant teen die toekenning van die wye nuwe maatreëls wat dié spesifieke klas lisensie toelaat.

In Paratus se aansoek, ingedien deur mnr. Andrew Hall as uitvoerende direkteur, noem hulle dat die hoofstad slegs om 'n (meer beperkte) netwerkfasiliteit-diensleweringslisensie aansoek gedoen het.

Paratus wys daarop dat die aansoek onvoltooid ingedien is, dat die aansoek deur 'n ongemagtigde stadsbeampte ingedien is, dat CRAN nie binne sy regte opgetree het nie, dat Paratus nooit ingelig of geleentheid vir deelname in die besluit gegee is nie, dat deursigtigheid nie gehandhaaf is nie en dat die uiteindelike toekenning dus op onredelike en onregmatige wyse gedoen is.

Hall en Paratus dring daarop aan dat die Windhoek munisipaliteit nie deur die wet op plaaslike owerhede toegelaat word om telekommunikasiedienste as 'n bedryf aan te bied nie.

'BUITE MANDAAT'

“Artikel 30 van die plaaslike owerheidswet bied 'n lang lys magte aan plaaslike owerhede, maar nie een daarvan sluit die mag in om telekommunikasiedienste aan die publiek te verskaf nie,” lees hul stelling.

Volgens Paratus bied artikel 30 (1) (ab) die munisipaliteit die reg om dienste kommersieel aan te bied, solank die owerheid geregtig is om die betrokke diens te lewer. Volgens Hall is die stadsowerheid nie bemagtig om die telekommunikasienetwerk wat dit gebruik, te kommersialiseer om ander dienste te lewer nie – net soos dit as voorbeeld nie bemagtig is om 'n kommersiële vervoerbesigheid te begin deur gebruik te maak van die swaarvoertuie wat dit vir padwerke aangeskaf het nie.

Die hoofstad beskik oor 'n wye kragnetwerk wat ook vir verspreiding en toegang tot telekommunikasietegnologie gebruik kan word.

Die besluit om meer inkomste uit hierdie bron te probeer verdien, is op 31 Oktober 2017 deur die Windhoek stadsraad geneem, toe hulle opdrag gegee het dat die hoofstad se strategiese uitvoerende beampte vir elektrisiteit vir 'n netwerkfasiliteit-diensleweringslisensie moet aansoek doen. Die uitvoerende beampte vir inligting- en kommunikasietegnologie het uiteindelik die aansoek ingedien.
- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-11-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer