Huise té duur, salarisse té klein
Jo-Maré Duddy
Vir die gemiddelde Namibiër om dieselfde huis nou te kan bekostig as wat hy in 2007 sou kon koop, sou sy salaris met 52% moes styg.
Huispryse het gemiddeld met tussen 15% en 20% per jaar gegroei, het Daniel Kavishe, hoof van marknavorsing by FNB Namibia, Vrydag gesê toe hy die land se eerste spoorsnyer van bekostigbaarheid (“affordability tracker”) bekend gestel het.
Dié instrument meet die verhouding tussen reële per capita-lone en mediaanhuispryse in Namibië van 2007 tot 2015. ’n Waarde van een is aan 2007 toegeken en gaan van die veronderstelling af uit dat verbruikers huispryse in die mark kon bekostig. Teen die einde van 2015 was die verhouding tussen reële per capita-lone en die mediaanhuisprys 0,52 – die laagste in die byna tien jaar onder oorsig. Dit beteken salarisse en lone sou 52% hoër as in 2007 moes wees om dieselfde huis te kon bekostig wat ’n verbruiker toe kon koop. Alternatiewelik sou die mediaanhuisprys in Namibië 52% laer as dié van 2007 moes wees.
FNB Namibia het jare gelede reeds ’n behuisingsindeks ontwikkel wat as die maatstaf vir verwikkelinge in die eiendomsmark beskou word. Kavishe sê die saamstel van die spoorsnyer het egter noodsaaklik geword sodat vasgestel kan word of die gemiddelde verbruiker huise in die mark kan bekostig. Dis nie net stygende huispryse waarmee verbruikers moet rekening hou nie.
Die skerp toename in water- en elektrisiteit verweer ook sy koopkrag en die bekostigbaarheid van ’n woning. Kavishe sê hoewel Namibiërs se vergoeding met inflasie tred gehou het, sou dit sedert 2007 met 30% moes styg om water gerieflik te kon bekostig. Om hoër kragtariewe te kon bekostig, sou ’n verbruiker 40% meer moes verdien.
Dié hoër water- en kragtariewe kan hoofsaaklik toegeskryf word aan ou en oorlaaide infrastruktuur wat dringend opgeknap moet word, sê Kavishe. Bykomende kapasiteit is voorts nodig indien die vraag na dié dienste teen die huidige tempo voortduur. Kavishe sê verbruikers se lone sou jaarliks met die gemiddelde inflasiekoers plus 8% verhoog moes word om te verseker dat hulle met stygende huispryse asook water- en elektrisiteitstariewe kan bybly.
Daar is ’n groot verskil tussen verbruikers se inkomste en eiendomspryse, wat beteken Namibiërs se maandelikse paaiement op ’n standaardhuis het sedert 2007 “drasties” gestyg, sê Kavishe. Hulle kan geen ander uitweg hê as om “aggressief” te leen om hul huise te kan bekostig en hul leefstyl te onderhou nie.
Die Bank of Namibia (BoN) se skuldlassyfers beaam Kavishe se mening. Volgens die sentrale bank se jongste finansiële stabiliteitsverslag was huishoudelike skuld in verhouding tot besteebare inkomste teen die einde van Desember 2014 83,9% – ’n hele persentasiepunt hoër as in Desember 2013.
Dié syfers beteken dat uit elke N$100 se besteebare inkomste waaroor Namibiërs beskik, N$83,90 nodig is om hul skuld te delg. Die bedrag sluit skulddelging by handelsbanke en die informele sektor in.
Kavishe sê tensy lone in die komende jare behoorlik aangepas word of die groot veranderinge in die aanbodkant van die mark plaasvind wat die groei in huispryse en krag- en watertariewe tem, gaan arbeidsonrus in Namibië toeneem. “Dit kan moontlik tot stakings aanleiding gee, wat produktiwiteit kan verlaag en die algehele produksie in die ekonomie pootjie,” waarsku hy.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie