Huis-Acacia kry nuwe vleuel
Huis-Acacia kry nuwe vleuel

Huis-Acacia kry nuwe vleuel

Dié tydelike tuiste vir kankerpasiënte is die enigste gratis tussen­tydse verblyf in Afrika.
Maria Eiseb
Maria Eiseb - Bouwerk aan Huis Acacia, die ­Kankervereniging van Namibië (CAN) se tydelike tuiste vir pasiënte in Windhoek, is voltooi en die nuwe vleuel is verlede week deur mnr. Kurt Johannesson, destyds die vereniging se uitvoerende hoof, ingewy.

Die nuwe afdeling is ook na Johannesson vernoem.

By die geleentheid het hy gesê hy het destyds 'n wonderlike reis vir die liefde van ­Namibiese mense saam met CAN aangepak.

“Diegene wat niks oor kanker weet nie, kan gerus Windhoek ­Sentrale Hospitaal se Saal 8-wes besoek, waar kinder­pasiënte opgeneem is.”

Hy het gesê CAN het die eiendom waarop Huis Acacia gebou is in 1985 vir N$100 000 aangekoop.

Opknappings is teen 'n beraamde koste van N$90 000 gedoen en in 1995 tot 1996 is 'n nuwe vleuel vir 10 pasiënte aangebou.

“Vroeër het ons slegs nege beddens, drie matrones en een kantoor gehad,” het hy gesê.

Johannesson het gesê dit is 'n eer om deel van CAN se span te wees.

Huis Acacia is die enigste tussentydse huis in Afrika waar pasiënte nie 'n sent betaal nie, het hy gesê.

“As jy kanker kry, is jy baie arm. Jy kan nie 'n hotel bekostig nie, en dít is waar die idee vir Huis Acacia vandaan gekom het,” het hy gesê.

Hy het die vereniging se vennote vir hul ondersteuning bedank en gesê hy is dankbaar vir elke baksteen wat gebruik is om Huis Acacia mee te bou.

By dieselfde geleentheid het die me. Jane ­Katjavivi, 'n trustee van die FNB Namibia Holdings-stigting, gesê die stigting is verheug oor die vennoot­skap. Sy het CAN vir hul ondersteuning van kankerpasiënte bedank.

“Ons rol is om die effek van kanker te verlig en om oorlewingswyses te help verbeter. Ons moet hiermee voortgaan,” het sy gesê.

Mnr. Graeme Mouton, wat 'n toespraak namens mnr. Wessie van der Westhuizen, besturende direkteur van Namibian Breweries, gelewer het, het gesê die vereniging bied goeie ondersteuning in die stryd teen dié dodelike siekte.

“Dit is 'n steunpilaar vir hulle wat direk geraak word,” het hy gesê.

Me. Anne-Mari Molatudi, van die Namsov Community Trust, het gesê die trust veg saam in die stryd teen kanker, en ondersteun daarom pasiënte en hul familielede.

Mnr. Rolf Hansen, uitvoerende hoof van CAN, het borge bedank en gesê wat die afgelope drie jaar 'n droom was, het 'n werklikheid geword.

“Elke stap, elke blikkie wat geskud is en elke appel wat verkoop is, was 'n lieflike pad om saam met julle te stap.

Huis Acacia sal nou 34 pasiënte kan akkommodeer. Die gratis verblyf sluit ook drie gebalan­seerde maaltye per dag en vervoer na mediese sentrums in.”

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer