Houtskoolbedryf kan meer lonend wees

Houtskoolprodusente is touwys gemaak in meer doeltreffende produksie en bykomende inkomstegenerering uit byprodukte.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Houtskoolprodusente kan 'n inkomste verdien deur byprodukte van kilns se rook te onttrek terwyl hulle slimmer te werk gaan om meer en beter kole te produseer.

Daarbenewens kan die produksie van biochar hulle tot N$10 000 per m³ in die sak bring.

Die Namibië Houtskoolvereniging (NCA) het onlangs 'n velddag op die plaas Aimeb noord van Outjo aangebied. Daartydens is produsente meer geleer oor hoe Namibië se houtskoolbedryf gemoderniseer en ook meer omgewingsvriendelik gemaak kan word.

“Ons weet die rook van houtskoolproduksie is 'n probleem en is besig om dit aan te spreek,” het mnr. Michael Degé, die NCA-bestuurder, gesê. “Ons weet ook dat finansiële aansporing produsente sal aanmoedig om die rook te verminder.”

Sowat 157 mense het die geleentheid op 20 en 21 November bygewoon.

“Die rook van houtskoolproduksie bevat eintlik waardevolle bestanddele. Dienooreenkomstig het die NCA 'n navorsingsprojek begin om 'n eenvoudige dog robuuste produk te ontwikkel waarmee produsente byprodukte van die rook kan 'oes' en 'n inkomste daaruit te maak,” het die NCA in 'n persverklaring gesê.

'n Chemiese tegnikus van Outjo, mnr. Eben Visser, het 'n distilleringseenheid gebou wat houtsuur en teer uit rook versamel.

Elke verbrandingsiklus produseer sowat 40 liter houtsuur. Hout­suur, meer spesifiek humiensuur wat daaruit gehaal kan word, dien as 'n voedselbron vir grondbakterieë. Die gebruik hiervan benodig minder kunsmis.

Volgens die NCA kan tot vier kilns rondom die distilleringseenheid geplaas word.

“Houtsuur en teer kan op 'n plaas gebruik of verkoop word.

“Na raming kan 'n houtskoolprodusent sy inkomste met die byprodukte verdubbel. Dit hou ook 'n bykomende voordeel in dat die vrystelling van rook minimaal is,” word in die persverklaring gesê.

Mnr. Pieter Potgieter, 'n kenner van houtskoolproduksietegnologie, het aan besoekers verduidelik hoe 'n 24 uur-brandsiklus, met die gebruik van tradisionele kilns, hout­skoolproduksie aansienlik kan verbeter.

Dit is veral belangrik aangesien tot 90% plaaslike houtskoolprodusente nog van die tradisionele oonde gebruik maak.

Dit behels dat hout eers volgens grootte opgedeel word en dan in fases verbrand word, terwyl lug en vuur versigtig beheer word.

“Toetse het bewys dié 24 uur-siklus verbeter die doeltreffendheid en gehalte van houtskool. Tradisioneel word 1,2 ton houtskool per kiln per maand geproduseer, maar met die 24 uur-tegniek word 100 kg per dag vervaardig.

“Uitgewerk op 25 werksdae per maand, kom dit daarop neer dat 'n bykomende 2,5 ton houtskool geproduseer word.

“Tradisionele verbranding produseer ook 67% braaihoutskool en 33% fyn houtskool. Met die 24 uur-siklus kan tot 80% braaihoutskool geproduseer word,” het die NCA gesê.

Produsente wat die mobiliteit van die tradisionele kilns verkies, kan na die sogenaamde NAM3-kiln opgradeer wat lugpype het, die werking van 'n retort naboots en tot 150 kg in 24 uur lewer.

Terselfdertyd is gewys hoe biochar van fyn takkies of houtskerwe ­geproduseer kan word - wat as voedingsaanvulling, isolasie in die boubedryf, energieberging in batterye, filters in riool­aanlegte of 3D-drukker­ink gebruik kan word.

Vuur word in die middel van die kiln gemaak en sodra as geproduseer word, word nog materiaal geleidelik oor 'n tydperk van vier tot vyf ure bygevoeg. Die temperatuur kan tot 700 °C bereik en tot 100 liter water moet gebruik word om die vuur te blus, het die NCA verduidelik.

Die kiln wat op die velddag gedemonstreer is, produseer tot 2 m³ biochar per siklus.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer