Houtskool: Eendagtegniek beter, goedkoper

Die verbrandingstegniek is 'n belangriker faktor in houtskoolproduksie as die tipe kiln of oond wat gebruik word.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



'n Nuwe verbrandingstegniek waarvoor tradisionele kilns ingespan kan word, verkort nie net houtskool se verbrandingstyd na een dag toe nie, maar is ook meer omgewingsvriendelik en lewer 'n ­produk van beter gehalte.

Mnr. Michael Degé, bestuurder van die Namibiese Houtskoolvereniging (NCA), sê die vereniging se ledetal groei steeds daagliks.

Dienooreenkomstig fokus dié ­organisasie daarop om mense touwys oor die eendagbrandtegniek te maak.

Hulle het oor die afgelope drie maande reeds 94 houtskoolwerkers opgelei.

Degé sê die meeste nuwe lede wat by die NCA aansluit, beoog om vir die eerste keer met ­houtskoolproduksie te begin. “Dit neem 'n produsent ­gemiddeld drie tot vier maande om in produksie te kom.

“Houtskool is een van die belang­rikste bronne van inkomste vir ­talle ­boere. Boonop is dit een van die ­grootste bronne van inkomste vir onge­skoolde arbeiders. ­Terselfdertyd is dit een van die topprodukte wat vir ons buitelandse valuta verdien.

“Daar word geraam dat sowat 14 mense by 'n houtskoolarbeider se ­inkomste baat,” het Degé in 'n onderhoud met Die Boer gesê.



TEGNIEK BÓ KILN

Degé sê as dit by houtskoolproduksie kom, is die tegniek veel belangriker as die tipe kiln of oond wat gebruik word.

Volgens hom behels die nuwe brandmetode dat jy die kiln reeds die ­volgende oggend kan oopmaak, indien al die stappe reg gevolg is.

“Daar is wel twee verskillende tipe kilns – die tradisionele een en dan die retort. Die verskil tussen die twee is die hout in die tradisionele kiln kom in direkte kontak met die vuur, waar dit in die ander een slegs deur die gasse van die hout gepiroliseer word.

“Die retort lewer sodoende 'n ­beter gehalte houtskool, maar is baie ­duurder om aan te skaf en die onder­houdskoste van 'n mobiele ­retort is ook baie hoër. Ons het verskeie ­toetse op albei tegnologieë gedoen en daar is voordele en nadele aan beide ­verbonde,” het Degé gesê.

Hy sê tradisionele kilns word vir gemiddeld sowat N$2 000 verkoop. “As jy boonop die eendagbrand­metode kan toepas, lewer dit uitstekende waarde vir geld,” het Degé gesê.



EENDAGMETODE

“Hierdie is net 'n kort opsomming van die eendagmetode. Ons bied baie meer inligting tydens die opleiding, ook hoe om die oond vinniger te laat afkoel.

Hy sê aanvanklik word 'n ­tradisionele kiln vir die eerste 40 tot 50 minute teen 'n baie hoë spoed aangevuur.

Dit is sodat die suurstof die piroliseringsproses vinnig kan begin.

“Daarna word die oond onder ­toegemaak en begin ons met die oorkruis­brand. Wat dit beteken, is dat twee luginlate in 'n lyn oopgemaak word. Elke 15 minute word twee ­ander luginlate oopgemaak.

“Die doel daarvan is dat die hout ­eweredig binne in die oond kan piroli­seer en die hitte nie te hoog raak nie. Hierdie proses word vir ongeveer drie ure gevolg. Dit hang alles van die tipe hout, die dikte en lengte sowel as die hout se voginhoud af.

Ná die eerste drie ure word die oond slegs een keer opgevul, en wel met ­kleiner stukke hout as die wat heel onder in die oond geplaas is.

“Ná ongeveer drie ure word 'n toets gedoen om te kyk of die boonste hout wel gepiroliseer is en daarna word die oond geseël,” het Degé verduidelik.

“Een van die belangrikste faktore is die gevaar van veldbrande word ná die eerste fase uitgeskakel.

“Daar moet deurlopend toesig gehou word om te verseker die ­houtskool ­verbrand nie.

“Laastens word die kiln binne sewe ure geseël; dus hoef geen kiln na-ure te brand nie.

“Hoe vroeër in die dag die werkers begin, hoe vinniger kan die pot beheer word om die gevaar wat sterk ­winde inhou die hoof te bied,” ­verduidelik Degé.

Oor die produksie van alternatiewe produkte uit indringerbos soos onder meer biochar, sê Degé dit word steeds op 'n baie klein skaal geproduseer.

Hy sê die produksie van veral ­biochar is nuut en dit sal tyd neem om 'n plek in die bedryf te vind.

“Die voordele van die produksie van biochar is egter legio. Ons ­vertrou ­produsente sal dit besef en dit al hoe meer sal beoefen.”



OPLEIDING

“Ons het drie werkers by die ­Charcoal Village naby Otjiwarongo wat ten ­volle toegerus is om opleiding op plase aan te bied. Ons bied ook een maal per maand 'n kursus by die ­Charcoal ­Village aan.

“Die kursus op plase is 'n week lank en word in werkers se eie taal aangebied.”

“Ons het intussen die tegniek ­verfyn om veldbrande te voorkom. Die klem word op gehalte, kwantiteit en ­omgewingsbewustheid geplaas.

“Die opleiding op plase is ­suksesvol aangesien die werkers self moet kan wys dat hulle die metode reg ­aanwend.

“By die Charcoal Village bied ons ook opleiding oor hoe om rookverminde­ringstoerusting te gebruik. Dit ­behels 'n spesiale kursus oor twee dae en word vir beide plaasbestuurders ­sowel as toesighouers aanbeveel.

“Ons bied ook 'n kursus in die ­produksie van biochar aan wat twee dae duur.”

Produsente kan vir Degé tydens ­kantoorure by 067 304 220 vir meer inligting kontak.

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer