Hou maar oog op dié yster van die Suide

Bergfietsry
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Wie is hierdie Alex Miller mannetjie en waar kom hy vandaan?

Verskeie mense het dié vraag dalk twee naweke gelede vir die eerste keer begin vra – en nog meer mense laas naweek.

Veral kenners wat hul vinger op die pols van Namibiese bergfietsry hou, is geweldig opgewonde oor die potensiaal van dié 15-jarige plaasseun van Helmeringhausen. Sowat 450 kilometer suid van Windhoek is waar Miller tuisonderrig kry en sy eie oefenroetes op die plaas uiteengesit het.

Laas Saterdag se bergfietsresies by Daan Viljoen word beskou as een van die mees uitmergelende byeenkomste vir klimmers in die ganse Namibië – tesame met die Sky Ride by Heja Lodge. Oor die hoofresies se afstand van 40 kilometer het die klimdele se gesamentlike hoogte op sowat 1 200 meter te staan gekom.

Raul Costa Seibeb was die mans ope wenner in een uur 36 minute 55 sekondes, met die jong Miller net twintig sekondes ná hom. Nege minute later het Wyne Keister derde oor die eindstreep gery.

Die nasionale fietsry-afrigter, Hans du Toit, was as meestersryer vierde klaar. “Die klimskofte is redelik brutaal en dié resies val nie in die swaarder manne se kraal nie,” sê hy.

Du Toit het sedert verlede jaar leiding in Miller se loopbaan begin gee. Tevore het Miller se pad ook gekruis met dié van Piet Swiegers, ''n ewe formidabele kanniedood bergfietsryer in die meestersklas wat ook van Aus in die Suide afkomstig is.

Du Toit en Swiegers is ewe opgewonde oor die tiener se vordering tot dusver.

“Alex het eintlik al die afgelope twee jaar gewys dat hy ''n ontluikende ster is. Sy ''pistons'' is reg. Sy kop is reg,” sê Swiegers betekenisvol.

“Tevore het hy aangesukkel met ''n fiets wat 20 kilogram geweeg het, maar met sy nuwe fiets is hy nou al kort op die hakke van elite ryers soos Costa. Voortaan sal die manne maar hard moet trap om voor hom te bly.”

Du Toit is ook vol bewondering vir Miller se selfgedrewe motivering – beide op die fiets en in sy tuisonderrig.

“Ons het vroeg vanjaar aan van sy tegniese aspekte in die veldresies (cross-country) begin werk en hy het die nasionale kampioenskap in sy ouderdomsgroep gewen.

“Hy is net ''n paar sekondes agter die groot manne. Hy het Saterdag sy waterbottel verloor en het toe ook nie by die waterpunte stilgehou om sy bottel vol te maak nie. Dit was ''n bietjie gebrek aan ondervinding.”

Met jongmanne soos Charl du Plooy, Marcel Holtz, Schalk van der Merwe, Dieter Koen, Divan du Plooy en nou ook Miller is die vooruitsigte baie belowend vir die ouderdomsgroep wat in die voetspore van Tristan de Lange en Herbert Peters volg.

In die kleure van Mannie''s Bike Mecca sal Miller gewis ook een van die sterk kandidate vir ''n viermanspan in vanjaar se Nedbank Desert Dash wees.

Miller het twee naweke gelede in die Pick N Pay Cycle Classic ook in beide resiese sterk na vore getree. In die bergfietsresies oor 50 km het net Xavier Papo (met vier sekondes) en Costa Seibeb (drie sekondes) voor hom klaargemaak. Die volgende oggend in die padfietsresies se 65 km afstand was hy vierde ná Schalk van der Merwe, Titus Koen en Brandon Plaatjies.

• Die prominente wenners laas naweek in die Megabuild en Wispeco Daan Viljoen bergfiets­resies oor 40 km:

Mans ope: 1 Costa Seibeb, 2 Alex Miller, 3 Wyne Keister.

Vroue ope: 1 Jeanne Heunis, 2 Michelle Doman, 3 Lelani Swart.

Meesters mans: 1 Hans du Toit, 2 Philip Steyn, 3 Frikkie van Greunen.

Meesters vroue: 1 Johanita de Waal, 2 Rosi Hennes, 3 Germien Stals.

Grootmeesters mans: 1 Stefan Bohlke, 2 Niels Serrer, 3 Johann Liebenberg.

Grootmeesters vroue: 1 Berrit Graf, 2 Reinette Mentz.

Kommentaar

Republikein 2025-05-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer