Hou die selle oop vir die regte misdadigers
Hou die selle oop vir die regte misdadigers

Hou die selle oop vir die regte misdadigers

Mandy Rittmann
NOU HOE DAN NOU SKRYF:

Ek weet dagga was nog al die jare voorgehou as ’n gevaarlike dwelm, maar daar is bitter min van my kennisse wat nie dagga-olie of verwante produkte koop en gebruik vir een of ander mediese toestand nie. Dit word al hoe meer erken vir die wonderlike genesende krag, wat soveel beter werk as sommige van die chemiese middels en pynverligters wat wettig beskikbaar is.

Daar is selfs dokters wat dit in hul spreekkamers gebruik vir siektes en pyn, selfs so ernstig as vir kankerverwante probleme. Nie een van my kennisse gebruik dit as ’n dwelm nie en elke enkele een kan getuig van die genesende en pynverdowende effek daarvan. Mag ek ook net noem dat min van my kennisse jonger as sestig jaar is, derhalwe mense wat nie sommer die gevreesde ”dwelm” ligtelik sal gebruik nie.

Nou wil ek graag vir ons wetmakers vra of dit dan nog steeds nodig is dat ons polisiemag tyd aan die vervolging van vervaardigers van dagga-olie en -salf moet afstaan? Genugtig! Is daar nie ernstiger vraagstukke in ons mooi land, wat ons wetstoepassers se aandag meer nodig het nie?

As iemand vervolg moet word vir die een of ander misdaad is daar meer as genoeg verkragters, moordenaars, wilddiewe en beskonke bestuurders wat smeek vir 'n bietjie aandag van ons wetstoepassers. Skrap tog maar die daggawette en wettig die mediese gebruik daarvan, dan kan daar sommer beheer uitgeoefen word op die buitensporige prys daarvan en niemand hoef in ’n sel te gaan sit omdat dit skelm gekweek en vervaardig is nie. Hou tog maar liewer die sel oop vir ’n regte, egte misdadiger.

Kommentaar

Republikein 2026-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer