Horings glo in Windhoek ontvang

Die Chinese smokkelaar sê hy het twee tasse by 'mnr. Zhang Fei' in die hoofstad gekry.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die Chinese renosterhoringsmokkelaar Ye Zhiwei (29) het in sy pleitverduideliking erken hy het drie horings van witrenosters en 15 van swartrenosters by 'n hotel in Windhoek ontvang.

"Ek bevestig dat ek die horings van Namibië in transito na Suid-Afrika ingevoer het met die bedoeling om dit na Hongkong te neem," het Ye in sy pleitverduideliking gesê.

"Nadat ek die tasse by mnr. Zhang Fei in Windhoek gekry het, het ek beheer oor die renosterhorings geneem om dit na Hongkong te vat."

Ye het op 17 Januarie in die streekshof in Kempton Park, Gauteng, skuldig gepleit op twee klagte van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur wat bedreigde spesies reguleer ná hy op 23 November 2016 op die Internasionale Lughawe O.R. Tambo in Johannesburg met 18 renosterhorings in sy besit betrap is.

Hy het egter deur die skandeerders van die Internasionale Lughawe Hosea Kutako geglip. Ye sal op 3 Maart gevonnis word.

Hy sê hy is in September 2016 deur Zhang genader om ekstra geld te verdien deur 'n pakkie in Namibië te ontvang en Hongkong toe te neem.

Ye, wat van die Xianan-nedersetting in die dorp Linan, naby die stad Putian in die Fujian-provinsie afkomstig is, sê hy het ernstige finansiële probleme gehad en het daarom die aanbod aanvaar.

"Ek was so desperaat dat ek geen ander keuse gehad het as om dit te aanvaar nie. Al my uitgawes na Namibië en Suid-Afrika sou gedek word," het Ye gepleit.

Op daardie stadium sê hy het hy nog nie geweet dat daar van hom verwag word om renosterhorings te vervoer nie, maar hy het ingestem om "'n pakkie" te vervoer.

Ye sê hy was onseker oor wat om te verwag, want dit was die eerste keer wat hy ooit buite China gereis het.

Hy het op op 7 November vanaf Fuzhou na Windhoek gereis en is by 'n hotel ingeteken.

"Zhang het twee tasse, wat reeds in plastiek toegedraai was, aan my oorhandig en my ingelig dat dit renosterhorings bevat. Ek het hom gevra of dit wettig is dat ek in die besit van renosterhorings is, wat hy beaam het."

Ye sê egter hy was bewus van die feit dat dit onwettig is om renosters te jag en in besit van hul horings te wees.

By Hosea Kutako het hy die tasse ingehandig sonder om dit self te ondersoek, "maar ek was bewus daarvan dat die inhoud renosterhorings is".

Op O.R. Tambo het Ye in die transito-area gesit toe hy deur die polisie genader is om hulle te vergesel.

"In 'n kamer het hulle my die twee tasse met die 18 renosterhorings wat ek by die lughawe in Windhoek ingehandig het, gewys. Alhoewel ek nie Engels verstaan nie, was dit duidelik dat hulle wou weet of dit my tasse is, wat ek bevestig het."

Ye is by O.R. Tambo aangehou en is later na 'n polisiekantoor geneem.

"Ek is die geleentheid gegun om my familie in China te bel en ek het aan hulle vertel wat gebeur het. Later het mnr. Who van die Chinese polisieforum in Cyrildene, Johannesburg, my besoek. Hy is deur my familie gekontak om my te help," lui Ye se pleitverduideliking.

Ye sê dat hy geen wettige verweer teen dié oortredinge het nie: "Ek het ernstige berou oor wat ek gedoen het en pleit skuldig."

SOEKTOG NA ZHANG

Die hoof van die Namibiese polisie se eenheid vir beskermde hulpbronne (PRU), adj.komm. Barry de Klerk, het gister aan Republikein gesê Chinese met die van Zhang is volop in Namibië.

"Die polisie stuur volgende week 'n ondersoekbeampte na Suid-Afrika met identikits van verskeie Zhangs om die regte een te identifiseer," het hy gesê.

"Ons vermoed ook dat die naam Zhang Fei vals is."

De Klerk het bevestig dat een stel horings beslis van Namibië afkomstig is.

"Die analise word tans nog in Suid-Afrika gedoen, maar een stel horings word beslis volgens 'n mikroskyfie met Namibië verbind."

Kommentaar

Republikein 2025-07-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer