Hou00ebr pryse help toerisme
Hou00ebr pryse help toerisme

Hoër pryse help toerisme

As die ekonomie knel en minder toeriste kom kuier, maak die verskaffers van verblyf ’n plan: hulle verhoog hul pryse.

Statistieke Suid-Afrika se jongste syfers oor die toerismeverblyfsektor se inkomste in Maart wys dat hoewel die hoeveelheid nagte wat verkoop is, vir die derde agtereenvolgende maand gedaal het, inkomste daaruit steeds gestyg het.

In Maart het die gemiddelde koste per verblyfeenheid per nag met 5% jaar-tot-jaar tot R1 042,40 gestyg, maar die hoeveelheid nagte waarvoor betaal is het met 1,2% afgeneem.

Vir die hele verblyfsektor het die inkomste met 1,4% nominaal in Maart gestyg.

Dit volg op ’n styging van 4,6% in Januarie en 3,2% in Februarie.

Totale inkomste van R4,2 miljard is in Maart uit toeristehuisvesting verdien.

Die totale verkope in Maart uit restaurante en kroeë wat aan verblyfinstellings gekoppel is, was R684,4 miljoen.

Woonwaparke en kampeerterreine het bykans al die veld wat hulle in Februarie gewen het toe dié subsektor met 24,6% gegroei het, verloor nadat dit in Maart met 20,2% gedaal het teenoor ’n jaar tevore.

Gastehuise en -plase het ’n daling van 10,9% in inkomste in Maart ervaar. Hotelle het egter 4,2% meer verdien terwyl inkomste uit ander akkommodasie met 6% gestyg het.

Seisoenaal aangepaste syfers wys die sektor het op ’n maandgrondslag, dus teenoor Februarie, met 0,9% gekrimp.

Hotelle was in Maart 62,4% vol, woonwaparke en kampeerterreine 46,4%, gastehuise en -plase 41,3% en “ander” verblyf 42,3%. Dit dui op ’n gemiddelde besettingskoers van 53,3%. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer