Hooggeregshof klap Itula-deur toe
Hooggeregshof klap Itula-deur toe

Hooggeregshof klap Itula-deur toe

Die hoogste hof het dié week gesê daar sal dadels kom van die eertydse onafhanklike presidensiële kandidaat se planne om 'n herverkiesing te hê.
Denver Kisting
Denver Kisting



Dr. Panduleni Itula, die voormalige onafhanklike presidensiële kandidaat, kan planne om weer deur die hooggeregshof gehoor te word op sy maag skryf.

Só het die hof Woensdag by monde van sy griffier, me. Elsie Schickerling, gesê.

Sy het 'n eenbladsybrief aan Itula gerig waarin sy hom meedeel die hof se onlangse uitspraak is finaal en bindend.

Volgens Schickerling is die hoog­geregshof nie meer met die aan­geleentheid gemoeid nie.

Itula het op 11 Februarie – dae nadat die land se hoogste hof gelas het 'n herverkiesing sal nie plaasvind nie – aangedui hy is nie met die uitspraak tevrede nie.

Oor die brief van die griffier het hy gister gesê hy sal in 'n geskikte stadium daarop reageer.

“Jy weet al teen hierdie tyd ek sal op 'n geskikte tydstip praat.”

Mnr. Graham Hopwood, 'n politieke ontleder, het gister gesê: “Ek dink die aanvanklike hooggeregshofuitspraak was duidelik dat dit finaal was. Maar dr. Itula blyk lief te wees vir gedingvoering – selfs wanneer daar baie min hoop op sukses is.”

Hopwood sê Itula sal mooi oor die toekoms moet besin.

“As hy 'n relevante politieke mag wil bly, sal hy moet aanbeweeg van wat verlede jaar gebeur het en met 'n strategie vir die toekoms vorendag kom.”

In dié stadium sal die tandarts moet besluit of hy later vanjaar aan die plaaslike – en streekverkiesings wil deelneem of nie, sê Hopwood.

Die regsdosent mnr. John Nakuta was vroeër reeds verstom oor Itula se hernude aanval.

“Die saak is res iudicata. Dit beteken die saak is deur 'n bevoegde hof beslis en mag derhalwe nie weer deur dieselfde partye aangepak word nie,” het Nakuta gesê.

Volgens hom mag die hof kragtens artikel 81 van die Grondwet sy eie ­beslissing omkeer, maar eers in 'n toekomstige geding.

“Dié artikel gee nie die goeie dokter die reg om terug hof toe te hardloop nie. Dit is die verkeerde interpre­tasie daarvan,” het hy gesê.

“Die rasionaal van die res iudicata-­leerstelling is om oneindige gedingvoering deur dieselfde litigant oor dieselfde aangeleentheid – net omdat hy/sy nie met die hof se beslissing saamstem nie – te verhoed.”

Ook, het die akademikus gesê, die leerstelling het ten doel om “kwelsugtige litigante” in die bek te ruk.

Itula was nie tevrede met verlede maand se uitspraak nie.

Hierin het die hof toegegee die gebruik van elektroniese stem­toestelle (EVM's) sonder 'n naspeurbare papierspoor was ­ongrondwetlik, maar het nie 'n herverkiesing gelas nie.

 – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer