Hoofman Bobo se vrou sterf in ongeluk
Hoofman Bobo se vrou sterf in ongeluk

Hoofman Bobo se vrou sterf in ongeluk

NAMPA
Die vrou van die Ju/’Hoansi San-gemeenskap se leier, hoofman Bobo Tsamkxao #Oma, is een van drie mense wat Dinsdag in ’n motorongeluk dood is.

Insp. Maureen Mbeha, polisiewoordvoerder vir die Otjozondjupastreek, het bevestig me. /Ui //Uce (70) is een van die oorledenes.

Mee. Ciqae Ncauka (79) en die Suid-Afrikaanse burger Sonja Canto (54) het ook gesterf.

Canto het die voertuig bestuur waarin die drie oorledenes gereis het.

Volgens Mbeha het die ongeluk omstreeks 08:30 sowat 4 km wes van die Rooidag-hek in die Tsumkwe-kiesafdeling plaasgevind.

“Die stasiewa waarin hulle onderweg was, het drie keer gerol en die drie vroue is op slag dood,” sê Mbeha.

Vyf mense, insluitende die bestuurder, was in die voertuig wat van Tsumkwe na Windhoek op pad was.

Twee mense is lig beseer en by die Grootfontein-staathospitaal behandel.

Volgens ’n voorlopige polisieondersoek het die bestuurder beheer oor die voertuig verloor. Die ondersoek duur voort. – Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer