Honger Wanderers teen onversetlike Unam in finaal
Klubrugby
Andrew Poolman - Die land se twee sterkste rugbyklubs takel mekaar môre in 'n intense eindstryd van die Namibië Rugby-unie se premierliga.
Baie is al gesê oor die FNB Universiteit van Namibië se oorheersing van die plaaslike toneel met 26 oorwinnings op 'n streep en 'n kans om môreaand vir die derde jaar op 'n streep die land se kampioenklub te wees.
Enigiemand wat reken 'n mate van oorgerustheid kan intree en in die guns van FNB Wanderers werk wat desperaat is om nie vir die vierde jaar ná mekaar oor die laaste hekkie te struikel nie, sal weer moet dink.
Unam se afrigter, Johan Diergaardt, het 'n goeie slag om sy spanne vir die groot oomblik gereed te kry en Unam se fiksheid en diepte het hulle te ver gebring dat daar nou skietgegee kan word. Hy het gister weer gesê dit gaan nie maklik wees om die titel by die studentespan af te neem nie.
Diergaardt het ook gesê dit is tyd vir Unam om die omstredenheid te begrawe en vrede te maak met die feit dat hy nie vir die SA Rugby-unie se Gold Cup in aanmerking kom nie.
“Ons as Unam weet die NRU het alles in sy vermoë gedoen om ons by die Gold Cup te kry. Ons gun dus nou die geleentheid vir die span wat deur hulle benoem sal word. Vir ons is daar alternatiewe toerkanse.
“Dit sal ons egter nie verhoed om met alles in ons vermoë ons trofee te verdedig nie. Ons is gereed, goed voorbereid en baie positief. Daar gaan 80 goeie minute van rugby in altwee finale (premierliga en reserweliga) gespeel word.”
Unam se kaptein, die agtsteman Bradley Klazen, is op sy pos om die heersende kampioene te lei, nadat hy laas naweek as verdediger 'n harde stamp gekry het. Dit het daartoe gelei dat hy ná net vyf minute permanent afgehaal is met vermoedens van harsingskudding, wat glo deur toetse vandeesweek weerlê is.
Unam se vorige leier in hul geskiedkundige 2014-triomf, die slot Muniovita Kasiringua, sal egter afwesig wees omdat hy met 'n seer knie sukkel. Die stut Tjino Tjirare (enkel) moes ook vervang word – net soos Unam se groot aanvalswapen Lesley Klim wat heel voorspelbaar vir nasionale diens opgeroep is.
Aan Wanderers-kant is dit ook nie verrassend dat Theuns Kotzé deur Namibië se afrigter Phil Davies opgeroep is nie, maar in Mahco Prinsloo het die Wit Hingste 'n ewe stabiliserende invloed in die 10-trui.
Prinsloo se taktiese tweestryd sal teen Unam se Helarius Kisting wees, wat vir sy klub vrygestel is.
Afrigter Charl du Toit, wat vanjaar ná drie seisoene by sy voorganger JP Nel oorgeneem het, moes ook sy kaptein vervang, omdat die stut Christo McNish se knie nie ná laas naweek se spannende semifinaal (24-22) teen FNB Western Suburbs reg vir aksie is nie.
Die nuwe leier, slot Nico Esterhuyse, is egter geen groentjie in dié rol nie.
FNB Unam: 15 Lorenzo Louis, 14 Silvano Beukes, 13 Milaan van Wyk, 12 Camlo Martin, 11 Chessborough Lawrence, 10 Helarius Kisting, 9 Cameron Klassen, 8 Bradley Klazen (kapt), 7 Renaud van Neel, 6 Berry Gande, 5 Rheinhardt Carelse, 4 Thomas Kali, 3 Hauta Veii, 2 Bigman Kaura, 1 Desiderius Sethie.
Reserwes: Jandre Cloete, Graham April, Walter Hendricks, Kami Mieze, Sunday Haitembu, Rodney Coetzee, Denver Murorua.
FNB Wanderers: 15 Jamie Joseph, 14 Malcolm Moore, 13 Janry du Toit, 12 Francois Wiese, 11 Phillip Nashikaku, 10 Mahco Prinsloo, 9 Enem Kritzinger, 8 Adriaan Booysen, 7 Dirk de Meyer, 6 Brian Roodt, 5 Nico Esterhuyse (kapt), 4 Kevin Vorster, 3 Andries Rousseau, 2 Gerhard Lotter, 1 Nian Berg.
• Môre se voorprogram in die Hage Geingobstadion begin met laerskolerugby vanaf 07:30, totdat die klubrugby se eindstryde begin.
Om 11:00 is dit Grootfontein teen die Etosha Leeus (eersteligafinaal); om 13:15 FNB Unam II teen FNB Wanderers II (reserweligafinaal) gevolg deur die rugbytoets tussen Namibië in Kenia.
Die hoofwedstryd FNB Unam 1 teen FNB Wanderers 1 se afskoptyd is 18:00.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie