Honderde neem eie lewens
Honderde neem eie lewens

Honderde neem eie lewens

Vandag is die Internasionale Dag vir die Voorkoming van Selfdood.
NAMPA
Maria Kandjungu – Minstens 745 mense in Namibië het tussen Januarie 2020 en Junie vanjaar hul eie lewens geneem, terwyl 1 172 probeer selfdood pleeg of dit oorweeg het.

Sowat 82% of 609 van die selfdoodvoorvalle was mans, terwyl 35 kinders jonger as 18 jaar was.

Dié statistiek is deur die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste in samewerking met die polisie aan Nampa beskikbaar gestel.

Met 111 gevalle het die Omusatistreek die hoogste selfdoodsyfer, gevolg deur Ohangwena en Khomas met 99 elk en Otjozondjupa met 86.

Luidens die verslag was die meeste sterftes mense wat hulself gehang of geskiet het. Ander het batterysuur gedrink of hulself verdrink, terwyl ander hul kele oopgesny het of hulself gesteek, vergiftig of aan die brand gesteek het.

VOORKOMING

Khomas se hoof maatskaplike werker, me. Tuhafeni Talia, en haar span gaan vandag in samewerking met verskeie belanghebbers ‘n voorkomingsprogram teen selfdood van stapel stuur. Vandag is die Internasionale Dag vir die Voorkoming van Selfdood.

Talia sê die program, wat later na ander streke uitgerol gaan word, poog om bewustheid te skep en die hoë voorkoms van selfdood in die land te takel.

Khomas het reeds ‘n taakspan om selfdood te verhoed, wat inligting oor ingrypings verskaf. Die streek teiken ‘n syfer van zero selfdood.

“Selfdood is 100% voorkombaar,” sê Talia.

Volgens haar is selfdood ‘n taboe in baie gemeenskappe en word die kwessie nie genoeg bespreek nie ondanks die hoë syfer daarvan.

“Selfdood is ‘n probleem, maar ons praat nie daaroor nie. Ons moet die gemeenskap opvoed.”

Talia het studie-onderhoude met 20 mense in Ohangwena gedoen wat selfdood probeer pleeg het.

“Baie sê hulle wil nie regtig doodgaan nie, maar voel oneindig baie pyn.”

NAVORSING

Meer navorsing oor selfdood in die land is nodig en kenners moet leiding gee oor hoe om dit te voorkom, sê Talia.

“Ons droom is dat die probleem eendag in die parlement bespreek word.”

Volgens Talia verskil die tekens van selfdood van mens tot mens. Die volgende tekens is egter dikwels ‘n aanduiding: depressie of hartseer, ‘n gevoel van hopeloosheid, isolering van familie en vriende, buierigheid, die skryf van selfdoodbriewe of -boodskappe, drank- of alkoholmisbruik, roekeloosheid, belangeloosheid en moegheid.
– Nampa

FOTO
Gemiddeld meer as 40 mense per maand het van Januarie 2020 tot Junie 2021 selfdood in Namibië gepleeg. Foto Unsplash

Kommentaar

Republikein 2025-12-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer