Honde, siektes en dies meer
Honde, siektes en dies meer

Honde, siektes en dies meer

[email protected]
Jeanette Diergaardt
Jeanette Diergaardt – Gewoonlik kan ek ure aaneen praat, dit hang net af met wie ek praat. Maar vir my eerste “Ek sê maar net” weet ek nie of ek oor iets ernstig moet praat en of ek net oor my oulike honde moet gesels nie.

Ag wel, wie wil nie oor troeteldiere praat nie. Die wêreld is ernstig genoeg en koffie is bitter. Ek het vier honde. Tegnies het ek net een steekhaarbrak en ’n aangenome Jack Russel en Sint Bernard.

Die vierde hond is my suster se maltraptefie wat nie weet of sy kom óf gaan nie. Sy eet die Sint Bernard se slym of hy smeer sy slym aan haar af. Ek sou ook my slym aan haar afgevee het, sy kan nogal irriterend wees. Die Jack Russel is die oudste en die ander mors die meeste met hom. Dit is maklik om hom te terg en die maltraptefie trek elke dag sy siel uit.

Ek verlang na my platkoppe (my honde). Almal en alles is platkoppe as julle nog nie weet nie. Ek gebruik dié term telkemale as ’n troetelwoordjie. Tensy jy rêrig ’n platkop is, dan is jy net een en daar is geen salf aan jou te smeer nie, soos Donald Trump. Dié blonde oom is die grootste platkop wat ek ken. Of is hy ’n gemmerkop met oranje hare?

Ek mag nie diere by die woonstel waar ek tans bly aanhou nie. Ek is vir ewig dankbaar dat my ma nie omgee om na haar “kleinkinders” te kyk nie. Sy het in die begin nie daarvan gehou as ek sê die honde is haar kleinkinders nie. Dit lyk my sy het nou vrede daarmee gemaak, óf sy ignoreer my net, óf dit kan albei ook wees. Maar nietemin, dit is baie gaaf van die auntie. Sy hou ook nie daarvan as sy auntie genoem word nie. Dis tannie en basta met die res. Moet haar ook nie tannie noem as sy nie jou ma se suster of jou pa se suster is nie.

So is ek Vrydag met sinusitis gediagnoseer. My sinus het ontsteek, maar nou dink ek amper elke dag die dokter het my verkeerd gediagnoseer. Ek kan dan amper nie ruik of proe nie; so dit moet Covid wees.

Toe ek Sondag eet, het ek net die sout geproe. Kan jy dit oorvertel? Net sout. Wie wil net sout proe terwyl jy ’n sappige biefstuk eet? Dit was verskriklik onsmaaklik. Die vreemdste van alles is die reuk van die buitelug. Dit ruik soos vars ys, of lug wat verskriklik droog is. Ek kry skoon ’n hoofpyn as ek aan dié reuk dink.

As ek hik en ek wil my asem ophou dan hoes ek my longe uit. My arme longe dink seker hulle is in ’n ou roker se lyf oorgeplant. Die ergste van alles is ek is amper vir ’n hele maand siek of selfs nog langer.

Die dokter waar ek eerste was, vertel mos vir my ek sit aan. Ek hoop vir sy beswil hy het net ’n grap gemaak, want ek het hom amper iets leliks toegesnou en nou sit ek met sinusitis. Dis seker nie die ergste waarmee jy gediagnoseer kan word in vandag se tyd nie.

Die coronapandemie is ver van waar dit begin het waar almal gedink het dit is een of ander fopsiekte. En nou… Ek kan aan ’n paar mense dink wat die erns van die siekte onderskat het en nou maan hulle almal aanhoudend om vir die inenting te gaan. So gaan asseblief vir julle inentings. As die wêreldmagte jou dood wou hê sou ons lankal uitwissing in die gesig gestaar het.

Kommentaar

Republikein 2025-12-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer