Hof stop Salini-staking
Hof stop Salini-staking
Salini Namibia voer aan dat die personeel wat op die perseel woon, se veiligheid en welstand in gedrang is en aan dreigemente onderworpe is.
Waarnemende regter Leezhel van Wyk het in haar uitspraak gesê die stakers mag nie die bestuur van Salini, nie-stakende werkers of diensverskaffers intimideer, teister of dreig nie. Hulle moes ook onmiddellik ná die hofbevel die ketting en slot aan die ingangshek tot die perseel verwyder.
Salini Namibia het Dinsdag ‘n dispuut by die arbeidskommissaris verklaar en Woensdag ‘n dringende hofaansoek ingedien om die staking te stop.
Volgens die maatskappy is die staking onwettig en dit is Maandagoggend omstreeks vieruur sonder waarskuwing of kennisgewing deur sowat 400 lede van die Metaal- en Verwante Werkersunie (Manwu) begin.
Mnr. Fabrizio Lazzarin, bestuurder van Salini, sê in sy eedverklaring dat Manwu reeds Maandag gewaarsku is dat die maatskappy om ’n hofbevel aansoek gaan doen.
Hy sê ‘n regsverteenwoordiger van Salini, mnr. Florian Beukes, het Maandag na Keetmanshoop gegaan om met Manwu te onderhandel. Hy was aanvanklik toegang tot die perseel geweier en moes deur ‘n opening in die heining kruip om met sy kliënt te praat.
Lazzarin sê terwyl hy sy eedverklaring voorberei het, was nóg Beukes nóg enigiemand anders toegelaat om die perseel te betree of te verlaat.
“Dit is prakties ‘n situasie van 'niemand gaan in en niemand gaan uit nie’. Almal op die perseel is gyselaar gehou,” sê Lazzarin in sy verklaring.
Beukes was na bewering ook deur die stakers gedreig toe hy ‘n kennisgewing van die dispuut aan hulle wou oorhandig. Dié dokument het die werkers glo oor die heining op die grond gegooi.
Salini het in sy hofaansoek kommer uitgespreek oor die veiligheid en welstand van personeel op die perseel wat na bewering “gyselaar” gehou is en met geweld gedreig is.
Geen aflewerings van vars kosvoorrade vir die 500 mense wat op die perseel woon en minderjarige kinders insluit, is blykbaar deurgelaat nie. Kombuis- en skoonmaakpersoneel is ook nie op die perseel toegelaat nie en nie-inwonende werkers wat vóór die staking aan diens was, kon nie na hul huise terugkeer nie.
Ten minste 11 sementlorries was per dag voor die ingangshek gestrand waarvoor Salini N$400 per uur elk in boetes moet betaal. Vir drie lorries met as moet Salini verdere boetes van N$450 per lorrie per uur opdok en dieselvoorrade was ook vertraag.
Adv. Yoletta Campbell wat in opdrag van ’n regspraktyk vir Salini in die hof verteenwoordig het, het benadruk dat die N$2 miljoen rand per dag wat die staking die regering kos deur Namibiese belastingbetalers betaal sal moet word.
Manwu het nie vir die verhoor opgedaag nie en moet op 4 Augustus die hof inlig of dit die uitspraak gaan teenstaan.
“Ek is geskok oor Salini se aantyging dat stakende werkers dreigend teenoor ander was,” het ‘n Manwu-verteenwoordiger, mnr. Enwich Kazondu, ná die hofuitspraak gesê.
Hy het bygevoeg dat die stakers slegs werk toe sal gaan as Salini bereid is om vooraf met hulle te onderhandel.
“Daar is egter geen aanduiding dat Salini die probleme wil oplos nie,” het Kazondu gesê.
Mnr. Theophilus Frederick wat as een van twee belhamels van die staking beskryf is, het ontken dat hulle enigsins nie-stakende werkers óf die Salini-bestuur met geweld gedreig of geïntimideer het. Hy het bygevoeg dat almal toegelaat was om die perseel te betree of te verlaat en dat die ingangshek reeds sedert Dinsdag vir almal oop was.
Soortgelyk
Gesondheidswerkers, leerlinge en onderwysers deel van 343 nuwe gevalle
Moller, Hatuikulipi se belange onder vergrootglas
Rekening van N$151 000 bly toe 'jakkals' gly
Mans vas oor vervalsing van Covid-19-toetsuitslae
Reënweer bring groot skade
Weer vir 11 Januarie 2021
Regering slaan toe op klaringsagente
Nafau wen in hof teen Shoprite
Op die spoor van Hardapdam se opvangsgebiede
Kleinadvertensies
