Hof slaan u2018n belangrike bres
Hof slaan u2018n belangrike bres

Hof slaan ‘n belangrike bres

Dani Booysen
Die skuldigbevinding gister van me. Katrina Hanse-Himarwa aan korrupsie is ‘n geskiedkundige eerste in Namibië.

Hiermee slaan die hof ‘n belangrike bres vir streng optrede teen magsmisbruik.

Die verweer is verwerp dat die Teenkorrupsie Kommissie (ACC) ‘n komplot teen Hanse-Himarwa georkestreer het. Haar volslae ontkenning van die bewerings was nie genoeg nie en ‘n belangrike deel van Hanse-Himarwa se getuienis was volgens die hof blatant oneerlik.

Baie mense het verwag sy sou onskuldig bevind word. Die groot openbare belangstelling in die saak word bewys deur die feit dat ‘n rekord van meer as 2 000 persone gister by Republikein se ook geskiedkundige regstreekse Facebook-uitsending van die uitspraak aangesluit het.

Hoewel Hanse-Himarwa nog goewerneur van die Hardapstreek was toe sy tot minstens een familielid se voordeel met die samestelling van ‘n lys begunstigdes vir behuising geknoei het, is haar bevoegdheid as huidige minister van onderwys, kuns en kultuur en haar politieke loopbaan nou onteenseglik in die weegskaal.

By die skrywe hiervan het pres. Hage Geingob nog nie standpunt ingeneem nie. Hanse-Himarwa sal egter vir seker appèl aanteken.

Staatshuis kan haar tydelik van haar pligte onthef of wag tot sy alle regsweë uitgeput het – wat geruime tyd kan duur. Die vraag is of Swapo bereid is om laasgenoemde risiko in ‘n verkiesingsjaar te neem.

Die uitspraak skep hoop by Jan en San Alleman dat meer “groot visse” aan die pen sal ry.

So sê ander

8 Julie 2019

EU beoefen nog steeds politiek uit die agterkamer

Die wyse waarop die Europese Unie (EU) sy vyf topposte gevul het, sê nogal iets van die krag én die swakheid van die organisasie.

Pleks daarvan om die vyf deur die verkose Europese Parlement te laat benoem, was daar sprake van ’n tipiese ouderwetse proses waar regeringsleiers in agterkamertjies beloftes geruil het – een vir my, een vir jou, ensovoorts.

Dit terwyl daar vantevore juis ooreengekom is om die proses deursigtig en demokraties te maak. Nou was dit wéér ondeursigtig en ondemokraties.

Dít is die swakheid van ’n organisasie van 28 soewerein onafhanklike state (ná Brexit sal dit 27 wees) wat ooreenstemming oor van alles en nog wat moet bereik. Wanneer die verkose lede van die Europese Parlement dan nie oor die vul van poste kan saamstem nie, soos hier die geval was, val die leiers terug op die ou en vertroude agterkamerpolitiek.

Die krag lê in die onbetwiste bekwaamheid van die mense wat aangewys is.

Die benoemings is nog nie finaal nie. Dit moet nog deur die Europese Parlement bekragtig word, en daar is die verontwaardiging oor die terugkeer van die tradisionele agterkamerpolitiek groot.

Dis egter te betwyfel of dit regtig afgekeur sal word.

Hoe ook al, die honde blaf, maar die karavaan gaan voort.

• BEELD, VOLKSBLAD (NETWERK24)

Kommentaar

Republikein 2026-09-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer