Hoekom nerds cool is
Hoekom nerds cool is

Hoekom nerds cool is

Karin Eloff
Verlede week was dit akademiese prysuitdeling by Spruit se skool.

En nee, die kinders kry nie sertifikate vir papierhoedjies vou en vingerverf-Kerskaartjies nie, hulle is soos in slim, hierdie kinders. Soos in vrek slim. Daar’s van hulle wat sommner in die negentigs kry vir vakke soos wiskunde en wetenskap en rekeningkunde.

Ek was natuurlik nie baie lus om die geleentheid by te woon nie, want ek sit reeds twaalf ure ’n dag by die werk, en om nóg spatare te gaan uitbroei, is nie my idee van ’n prettige aandjie uit nie.

Voor ek by my eintlike punt kom, moet ek noem die kinders wat akademies presteer, is eintlik nie noodwendig die slimstes nie – daar is wel (báie) slimmes, maar daar is ook die wat weet hoe om die stelsel te manipuleer, en dan is daar dié wat hulle gatte af werk. En dan is daar die nerds.

Dis oor húlle wat ek sit en dink het terwyl die name afgelees is en rye en rye happy kinders hul trotse ouers nog trotser gemaak het.

Eerstens moet ek verduidelik wat my idee van ’n nerd is: ’n Nerd is iemand wat vir jou ’n beskrywende opstel oor die struktuur van ’n ystermolekule sal kan skryf. Dis iemand wat navorsing doen oor die evolusie van die mossel. Hulle verwonder hulle aan hoekom ons knieë agtertoe buig en ontwerp stoele net in geval mense se knieë anderkant toe begin buig. Hulle bou 1 000-stuk legkaarte van ’n baksteenmuur. Of die kleur swart.

Hulle vind goed wat ons glad nie verstaan nie baie snaaks. Hulle dans soos spastiese jellievisse. Hulle’s skaam. Hulle huil nie sommer nie. Hulle het nie tyd vir kleinburgerlike dramatjies nie. Emosionele uitbarstings is vir hulle snaaks. Soos in haha-snaaks.

Hulle stel nie belang in modes en styl nie, want dis nie asof dít in die groter kosmos saakmaak nie, is dit? Hulle hare lyk gewoonlik k*k en hulle gee regtig nie om nie. Nerds is ongemaklik eerlik, want hulle verstaan nie altyd takt of diplomasie nie. ’n Nerd sal jou nie sommer oordeel oor die kar wat jy ry of die soort skoene wat jy dra nie, want aanstellerigheid bevorder nie juis die wetenskap nie, doen dit?

Nerds word betower deur enigiets. Letterlik enigiets op hierdie planeet. Want dis net so ongelooflik!

’n Nerd gaan jou nie skeef kyk as jy sê jou nefiritiese dendriete se wentelbane is besig om in die hiperboliese westerkim te verdwyn nie, want enigiets is moontlik.

Hulle gaan ook nie skrik as jy sê jou timpaniese mebraan tril nie, want hulle weet wat jy bedoel.

Of as jy sê jy wil die strykyster breek net om te kyk hoe lyk dit binne-in nie. Of as jy wil weet wat’s die verskil tussen ’n fiets nie.

’n Gesprek met ’n nerd is een vet avontuur. Om een te date, is selfs beter, want dan hou die avontuur nie sommer op nie.

En as jy verby die brille, boeke en botheid kyk, is hulle eintlik diep mooi en sag.

Kommentaar

Republikein 2026-06-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer