Hoe weet jy jy's 'n Namibiër?
Verlede week was ek en Spruit 'n jaar en vyf maande in Namibië.
En hoewel hierdie my geboorteland is, bly ek maar ná 44 jaar in die buurland 'n Suid-Afrikaner, en meer spesifiek, 'n Joburger. En ná byna 'n jaar en 'n half wonder ek of ek myself ooit 'n Namibiër sal kan noem.
Wanneer en hoe weet mens in elk geval nou eintlik jy's 'n Namibiër?
Ek het die vraag op Facebook gevra en die volgende antwoorde gekry: Een ou sê jy weet jy's 'n Namibiër as meer as 10 mense vir jou te veel is. In daai geval is ek al van geboorte af 'n Namibiër, want ek kan skaars cope met meer as een mens op 'n slag. Die ideale geselskap is volgens my vyf mense. Meer as vyf mense op 'n slag deel in elk geval vanself in kleiner geselsgroepies op. En wat winkels betref, is ek verseker 'n Namibiër, sommer van die kleinste dorp in die kontrei af, want die Grove is vir my áltyd te vol. En dit gee my maagkrampe.
'n Ander ou sê wanneer jy “êk” in plaas van “ek” of die Gautengse “âk” sê, weet jy jy’s 'n Namibiër. Maar ek moet sê ek het nog nie baie mense hier hoor “êk” sê nie – behalwe die Kaapse Namibiërs, wat dan nou seker ook nie régte Namibiërs is nie.
Waar's die Namibiërs met die plat aksente? Daai Jan Spieserige manier van praat? Is daar van hulle in Windhoek?
Iemand anders sê wanneer die Suide vir jou sy eie mooi begin kry, weet jy jy’s 'n Namibiër. Ek sal nie weet nie, want ek was nog nooit in die Suide nie, behalwe by geboorte, en daarvan kan ek nie veel onthou nie. My ma het wel iets gesê van jakkalse in die nag en 'n slang in die huis. En gemsbokke wat op die dorp rondloop. En diamante op die strand. Eendag wanneer ek groot is, wil ek tog bitter graag soontoe gaan.
Nog 'n Facebook-vriend (en eks-Oranjemunder) sê as Woolies nie by jou kan aflewer nie, dan weet jy jy’s 'n Namibiër. Dit hang seker af waar in die land jy bly. Ek en (veral) Spruit was moerse bly om te sien alles wat jy nodig het, kan jy wel in Windhoek kry – ek weet nou nie van die kleiner plekke nie, maar hier is selfs ’n Happy Me en ’n Typo en sushi. Ons het niks meer as dit nodig nie.
’n Ander Facebook-vriend sê as jy meer vriende in Namibië het as in Suid-Afrika, dan weet jy jy’s ’n Namibiër. Dít kan ek nog nie sê nie. Vriendskappe is nie iets wat binne 'n paar maande ontwikkel nie. Diep, ware vriendskappe het jare se geskiedenis. Daaraan werk ons nog.
Een van my jare lange vriendinne in die buurland sê jy sal weet jy’s ’n Namibiër as jy wens jy hoef nooit weer Suid-Afrika toe te kom nie. In daai geval is ek beslis 'n Namibiër, want, afgesien van vriende en familie, is daar absoluut niks wat ek in Suid-Afrika wil hê nie. Ek het geen behoefte daaraan om soontoe te gaan nie, en gelukkig kom vriende en familie so nou en dan hiernatoe – wat vir hulle ook veel lekkerder is as andersom.
En dan het my kollega Andrew Poolman seker die beste antwoord gegee: 'n Oorlede Namibiese omie moes glo altyd in die Oos-Kaap verduidelik hoekom hy elke vakansie terug Namibië toe gegeaan het. Sy verduideliking was wanneer jy by die grensposte by Noordoewer of Ariamsvlei een klip dié kant en een klip dáái kant optel, en die verskil kan onderskei – dan sal jy verstaan hoekom hy altyd terugkom.
En dán weet jy jy’s 'n Namibiër.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie