Hoe tevrede is Namibiese burgers?
Hoe tevrede is Namibiese burgers?

Hoe tevrede is Namibiese burgers?

Sowat 18 700 burgers sal binnekort insette kan lewer oor hoe tevrede hulle met openbare dienslewering is.
Elvira Hattingh
Die kantoor van die eerste minister sal van Mei af met ’n burgerlike tevredenheidsopname oor die gehalte van openbare dienslewering dwarsoor die land begin.

Aanbevelings uit die opname moet dan gebruik word om dienste te verbeter.

Die doel is om Namibiërs se insette te gebruik om dienste wat deur ministeries en regeringsagentskappe verskaf word, te evalueer, asook om die prestasie van ondernemings in staatsbeheer (SOE's) en streeks- en plaaslike owerhede te meet.

Tydens die opname, wat deel is van die Harambee-welvaartsplan se mikpunt vir doeltreffende bestuur en verbeterde dienslewering, sal sowat 3 740 huishoudings in die land se 14 streke besoek word en ’n geskatte 18 700 antwoordstelle sal anoniem ingevul kan word.

Die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) is gekontrakteer om dié opname deur sy Harold Pupkewitz Graduate School of Business te doen, terwyl Business Intelligence Africa, in samewerking met die Namibië Statistieke-agentskap (NSA), die “veldwerk” sal doen.

Die versameling van inligting sal na verwagting drie maande duur, en sensusopnemers sal uitgeken kan word aan hul hemde, hoedens, ID-kaarte en ’n brief van die kantoor van die eerste minister af.

Resultate van die studie sal na verwagting teen Augustus vanjaar aan kern- belangegroepe binne die regering voorgelê word en verslae sal ook aan die publiek beskikbaar gestel word.

Daar sal van ministeries, regeringsagentskappe, SOE’s, streeks- en plaaslike owerhede verwag word om stappe te neem om die aanbevelings in die studie toe te pas sodat openbare dienslewering kan verbeter.

Hul jaarlikse werkstrategieë moet ook aktiwiteite insluit wat sal seker maak die aanbevelings uit die studie word toegepas.

Die kantoor van die eerste minister hoop om jaarliks dié tipe opnames uit te voer sodat die openbare sektor se dienslewering geëvalueer kan word – veral wanneer dit by toeganklikheid kom en hoe lank dit neem om mense te help.

Die opnames moet onafhanklik uitgevoer en geanaliseer word, waarná remediërende stappe in die opvolgende jare geneem moet word.

Volgens ’n mediaverklaring deur die kantoor van die eerste minister raak burgerbetrokkenheid toenemend ’n sleutelkomponent vir moderne regerings.

“Die Namibiese regering is ernstig daaroor om openbare dienslewering te verbeter. Deelname aan die opname is ’n geleentheid vir burgers om tot die verbetering hiervan dwarsoor die land by te dra.”

Kommentaar

Republikein 2026-06-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer