Hoe ouer ek word, hoe beter was ek
Hoe ouer ek word, hoe beter was ek

Hoe ouer ek word, hoe beter was ek

[email protected]
Andrew Poolman
Die heel vreemdste ding van sommige aanhangers van ou bokskampioene is dat hy in hulle oë vir ewig die onstuitbare vegter bly, vir wie vandag se jong leeus nie durf droom om uit te daag nie.

’n Verwittiging deur ’n soekenjin (ook genoem Google Alert) laat weet my verlede week dat die Namibiese oudkampioen Harry Simon iewers op die internet ter sprake gekom het.

Die kliek onthul ’n aanlyn besprekingsforum vir boksentoesiaste waarop ene “Eltirado” soos ’n wafferse promotor ’n geveg tussen Simon en Roy Jones Junior probeer aanblaas.

Dieselfde Jones wat laas November as 51-jarige “gelykop” in ’n vertoongeveg teen Mike Tyson (54) geboks het.

Eltirado motiveer sy aanbieding met mening: “Beide is op ATG-vlak (all-time greats); Roy Jones het die meer windmakerige styl gehad, terwyl Harry Simon met sy kakebeen van staal onoorwonne gebly en vir Winky Wright ’n pynlike L besorg het terwyl hy op die piek van ’n uitstekende loopbaan was.

“In die jare rondom 1990 sou dit (Jones versus Simon) ’n 50-50 geveg op 154 pond (69.85 kg, junior middelgewig) gewees het.

“Wie van die twee sal vandag wen? In ’n neutrale venue (soos Saoedi-Arabië of China)?

“Beide is steeds aktief en honger vir glorie. Harry Simon (31-0) is op die lys van onoorwonne boksers, nie ver agter Floyd Mayweather (50-0) nie. Met so ’n lang heerskappy sal hy vir Roy as ’n maklike prooi en ’n maklike betaaldag beskou.

“Uit Roy se oogpunt sal dit ’n indrukwekkende prestasie wees om Harry Simon, ’n massiewe ATG, sy eerste nederlaag toe te dien. Daarmee kan niemand stry nie.”

Dié plasing het nogal lewendige debat van oënskynlik oorwegend Amerikaanse deelnemers ontlok.

Mark Ant: “Tyson het Jones totaal oorskadu.”

Eltirado was gereed met sy immer entoesiastiese antwoord: “Tyson is van nature ’n swaargewig en daarom was dit te wagte. Roy Jones kan waarskynlik vandag nog met kleiner boksers soos Canelo afreken.”

Mark Ant: “Ha ha ha! Canelo sal Jones verwoes. Jones sal nooit Canelo se soort krag kan hanteer nie.”

Cecil: “Wie sê Harry Simon is ’n all-time great? Probeer jy ’n grap maak?”

Chuck Norris: “Canelo sal nooit vir Jones klop nie, laat staan nog om hom te verwoes.”

Eltirado: “Harry Simon kom uit ’n klein landjie en die beoordelaars in elke groot geveg het teen hom gewerk. Nogtans het hy almal se tande ingeskop in drie gewigsklasse en nooit verskonings van geswelde tone, dehidrasie of ’n gebreekte rug voorgehou nie. So, ja, hy is ’n ATG.

“Peilings wys duidelik Harry is steeds die gunsteling bo Roy Jones. Roy het ’n beter kans teen Canelo (vyf voet sewe duim), want Roy het nooit teen ’n kleiner bokser as hyself verloor nie.”

Cecil: “Harry was ’n goeie vegter, maar ek is jammer: Jy noem hom in dieselfde ATG-geselskap as Roy Jones en hy is eenvoudig nie. Sover dit ’n geveg nou met Jones aangaan: ek stel nie belang nie.”

FromBuenosAires meen: “Harry Simon was ’n tweedevlak kampioen – nie verskillend van Kevin Lerena nie. Hy het teen ’n enkele wêreldklas vegter in Winky Wright te staan gekom, wat op massiewe wyse beroof is met die veranderde uitslag nadat hy as die wenner aangekondig is. Om Harry met Roy te vergelyk, is belaglik.”

NoNeck: “Simon hoort in die tronk.”

Eltirado: “Ons kan fantaseer oor scenario’s waar Harry Simon verloor, maar die werklikheid is hy kan nie geklop word nie. Ons kan niks daaraan doen nie, behalwe op anonieme forums kla omdat ons nie van sy perfekte onoorwonne rekord hou nie. Die Leeu van Namibië brul. Daar is geen plek vir swakkelinge in die geskiedenisboeke nie. Harry is ’n ATG ... dis onregverdig, maar die Magtige dwing sy wil af op die Swakkelinge ...”

Ensovoorts.

Die uiteinde van die saak: vir daai bittereinders van weleer wat weier om amptelik uit te tree, kos dit soms bemarkers se beste balanseertoertjie om die regte opponent te vind vir ’n behoorlike betaaldag.

Kommentaar

Republikein 2026-05-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer