Hoe om gebruiksbulle te selekteer
Dr. Joggie Briedenhann, Bonsmara-teler - Telers moet jaarliks besluit watter is die beste bulle vanuit hul eie teling om in die stoet te gebruik. Op Hartebeestloop het ons ’n geskeduleerde seleksieprogram elke September/Oktober sodat die geselekteerde bulle gebruik kan word in die nuwe paarseisoen wat kort daarna begin.
Deur die jare het Hartebeestloop Bonsmaras ’n stelsel ontwikkel wat regtig goed werk. Dit behels vyf seleksiestappe en die resultaat is geselekteerde bulle wat ten opsigte van die behoeftes in ons kudde op alle vlakke goed geëvalueer is.
Hoe kies ons gebruiksbulle op Hartebeestloop?
Hierdie eerste stap is slegs op die visuele gebaseer. Kundiges in die stoetveebedryf word genooi om te help met die seleksieproses.
Die kundige moet:
·Die kudde goed ken;
·baie ondervinding hê met visuele evaluasie vir funksionele doeltreffenheid en strukturele korrektheid;
·goed bekend wees met die evaluasie van vleiseienskappe op die hoef; en
·hy/sy moet die huidige marktendense goed verstaan.
Ons identifiseer die eienskappe wat ons in die Hartebeestloop-kudde graag verder wil versterk. Tydens die seleksie in 2012 is besluit om klem te lê op die volgende eienskappe:
·Kote
·Hakke
·Kapasiteit
·Geslagsegtheid
As die lys van eienskappe om te versterk in die kudde te veel is, raak almal deurmekaar en word die seleksieproses van min waarde. Probeer om nie meer as drie tot vier belangrike eienskappe te noteer nie. Daarenteen is enkeleienskap-seleksie miskien nog slegter as om te veel eienskappe te selekteer.
Seleksiestap 1
Hierdie eerste stap word slegs op die visuele gebaseer. Altesaam 128 geregistreerde SP-bulle is deur die keuringskrale geneem.
Geen data van die bulle word in hierdie stadium aan die seleksiepaneel beskikbaar gestel nie. Slegs die identifikasienommer van die dier word by die ingangshek uitgeroep. Bulle word slegs beoordeel op visuele evaluasie vir funksionele doeltreffenheid, strukturele korrektheid en karkaseienskappe.
Alles begin vir ons by die skeletale raamwerk. As die skelet reg is, is die kanse goed dat die spiere, bene, ligamente en ander weefsels wat daaraan vasheg, ook aanvaarbaar sal wees.
Die draaibeen-, heupbeen- en sitbeenkombinasie met genoegsame breedte, kapasiteit en diepte deur die voorlyf is maatstawwe wat in beoordeling gebruik word.
Ons lê klem op onderstaande vir die evaluasie van karkaseienskappe:
·Lengte van boudspier en aanhegting laag af op hak;
·goeie breedte oor die hak vir genoegsame spieraanhegting;
·lengte en volheid (vol vleis) van kruis- en lende-areas,
·algemene bespiering met klem op die agterkwart, voorarm en oogspieroppervlakte; en
·lengte van lyf.
Geen voorkeur word gegee aan enige eienskap wat nie van ekonomiese belang is nie. Wit op die onderlyn sal dus geen negatiewe invloed op seleksie hê nie. Net so sal ’n geelkleurige bul nie teenoor ’n donkerrooi (wat blyk die meer gewilde kleur is) bul gepenaliseer word nie. Ons is mos in die vleisbesigheid en nie in die kleurskemabedryf nie!
’n Bul word slegs geselekteer as al drie paneellede saamstem.
Altesaam 31 bulle is uitgekies waarvan 26 direk na die eerste seleksiekraal is. Vyf bulle is terug na die “kyk-weer-kraal” aangesien onsekerhede voorgekom het wat opgeklaar moes word. Na die kyk-weer-sessie, is nog twee bulle na die eerste seleksiekraal en drie is terug na die groot trop.
Van die aanvanklike 128 bulle, het 28 dus die eerste seleksieproses suksesvol deurgegaan.
Seleksiestap 2
Hierdie stap is weer eens op die visuele gebaseer. Die 28 bulle wat geselekteer was in Groep 1 is saam in ’n groot kraal geëvalueer waar dit maklik is om die bulle met mekaar in die groep te vergelyk.
Tydens die proses is nog agt bulle uitgehaal wat in groepsverband nie heeltemal aan ons vereistes voldoen het nie.
Aan die einde van hierdie stap het 20 bulle die Hartebeestloop-vereistes vir visuele evaluasie vir funksionele doeltreffenheid, strukturele korrektheid en voldoende karkaseienskappe geslaag.
Seleksiestap 3
Nou is die lekker gedeelte van bulle evalueer verby en die derde stap vat jou terug na die boeke, naamlik die ma se prestasies!
Elkeen van die 20 bulle se moeders se reproduksie- en produksiedata is in fyn besonderhede deurgewerk.
Bulle se moeders moes aan die onderstaande kriteria voldoen:
·Tussenkalfperiode van korter as 400 dae;
·reproduksie-indeks van bo 100; en
·stoetgoedkeuringspersentasie van minimum 60% van nageslag. Dit is vir vyf kalwers en meer. Tot en met die vierde kalf aangemeld vir keuring, werk ons op 50% stoetgoedkeuring. Hierdie is ’n belangrike oorweging. Ons het Elite, Superieur en Voortreflike toekenningskoeie wat slegs 20% van hul kalwers stoetgoedgekeur gekry het. Hulle is uitstaande kommersiële koeie, maar is nie bulmoeders nie.
Vyf bulle se moeders het nie aan bogenoemde kriteria voldoen nie en dus bly slegs 15 bulle oor vir die volgende seleksieproses.
Seleksiestap 4
Tydens die vierde stap kyk ons steeds na die boeke - die keer bul se eie prestasies!
Hy moet ’n Hartebeestloop Veldbulprestasie-indeks van 100 en hoër hê. Baie klem word gelê op die kondisietelling wat driemaandeliks tydens die nege maande lange Veldbultoets geneem is. Ons is in die mark vir veldaangepaste, lae-insetkoste en geharde diere. Ons moet dus vir die eienskappe selekteer.
Hy moet 750 gram per dag (GDT) en beter gegroei het tydens die ekstensiewe groeitoets op die veld. Ons gee nie regtig om waar in die groep die bul geëindig het nie (individuele prestasie), sy GDT-indeks moet net 90 en hoër wees en hy moet die 750 gram GDT oor die nege maande tydperk gehandhaaf het. Meeste van ons kliënte rond diere grotendeels op die veld af en groei op die veld is ons maatstaf.
Ons lê meer klem op die werklike gemete skrotumomtrek aan die end van die ekstensiewe groeitoets (ouderdom 22 tot 24 maande) as die BLUP-teelwaarde. Ondervinding het ons geleer dat as die bul ’n laer skrotumomtrek meet as die res van die kontemporêre groep, sy BLUP-teelwaarde vir skrotumomtrek in elk geval sal laer word met die volgende BLUP-teelwaarde lopie wat die gemete data insluit. As die bul se gemete skrotumomtrek nie 34 cm was nie, word hy uitgeskot.
Bulle wat se pelvisindekse onder 90 is, is uitgehaal. Vir baie telers sal die pelviskriterium vreemd wees. Die Hartebeestloop-filosofie is duidelik: As ons dit meet en aanbeveel, moet dit ’n merietewaarde in die seleksieproses dra.
Vir 2012 het ons slegs drie BLUP-teelwaardes gekies wat belangrik is vir die bulle om aan te voldoen:
·Geboortedirekte teelwaarde van nie meer as 1 kg bo die rasgemiddelde BLUP-teelwaarde nie;
·positiewe maternale (melk) teelwaarde; en
·skouerhoogte van nie meer as 5 cm bo rasgemiddelde BLUP-teelwaarde nie.
Daar het sewe bulle uitgeval wat nie aan bogenoemde vereistes voldoen het nie. Dus het ons nou net agt bulle oor vir moontlike selfgebruik in die Hartebeestloop-stoet.
Seleksie-stap 5
Met seleksie-stap 5 hou ons steeds by die boekwerk en kyk na die diepte in die familiestambome.
Moenie dink dat hierdie laaste genoem word omdat dit nie van groot belang is nie. Gebruiksbulle moet diepte in die stambome hê, want dit is nog ’n kriterium wat die risiko in aanwending verminder. Daar moet ten minste ’n koeifamilie of twee in die stamboom wees wat goed gepresteer het, of daar moet ’n bul(le) wees wat tot die genetiese verbetering in die Hartebeestloop-kudde of ander kuddes wesentlik bygedra het.
Hierdie is nie ’n kriterium wat met waardes of suiwer objektief bepaal kan word nie. Dit is deel van die geskiedenis van die Bonsmara en die kennis van die teler oor hoe die diere in die stambome gepresteer het. Suksesvolle stoettelers ken stambome!
Baie telers sal nou vra wat van genetiese variasie? Waar pas die uitkies van onverwante bulle in?
As daar goeie bulle is wat onverwant is aan die hoofstroom Hartebeestloop-genetika, moet hulle aan al bogenoemde kriteria voldoen het om deel van die geselekteerde groep van agt bulle te kan wees.
Ons sal nie ’n bul kies net omdat hy onverwant is ten koste van ’n ander verwante bul, wat beter in die seleksieproses gevaar het nie. Die Hartebeestloop-filosofie is primêr om beter gehalte diere te teel en nie om onverwante genetika van swakker gehalte te teel nie. As ons nie self topgehalte diere kan teel wat geneties ver genoeg onverwant is aan die bestaande Hartebeestloop-genetika nie, moet ons dit maar op ’n ander plek gaan aankoop. Dit is dan ook wat ons doen.
Daar is nog drie bulle uit die groep gehaal en vyf bulle het dus oorgebly. Ons was onseker oor een van die vyf bulle en het besluit om hom met die oog op verdere ontwikkeling nog ses maande kans te gee. Daarna sal ’n finale besluit oor sy toekoms in die Hartebeestloop-kudde geneem word. Aan die einde van die seleksieproses was slegs vier definitiewe bulle gekies.
Om die vyf bulle wat geselekteer is te besigtig, besoek die fotogalery (www.bonsmara.com.na) van ons “Jong stoetbulle van 2013”. Die vyf bulle is gefotografeer aan die end van die proses (na ’n baie lang en vermoeiende dag). Ongelukkig laat die foto’s nie reg aan hierdie uiters goeie bulle geskied nie.
Ekonomiese waardebepaling in seleksie
Van die bulle wat nie die finale groep van vyf gehaal het nie, is nie om een spesifieke rede uitgehaal nie. Daar was van hulle wat in baie seleksie-afdelings grensgevalle was en daarom is besluit om nie ’n kans met hulle te waag nie.
Daar is ook bulle gekies in hierdie seleksieprogram wat in sekere seleksie-afdelings aan die skraal kant was.
Dit is waar ekonomiese waardebepaling gedoen is om die eienskappe wat meer dollars verteenwoordig, groter meriete te gee. ’n Eenvoudige voorbeeld is waar meer waarde aan groeivermoë (gemiddelde daaglikse gewigstoename) as byvoorbeeld aan die pelvisindeks van die bul geheg is.
Hierdie gaan die seleksieproses vir jou baie vergemaklik.
Telers moet sorg dat die bulle reeds die dag voor gebruiksbulseleksie 100 persent reg en by die keuringskrale is.
Die papierwerk moet ook op datum en gereed wees. Daar moet nie gesukkel word nie.
Dit duur ’n volle dag om ordentlik deur so ’n seleksieproses te werk. Wees gewaarsku; dit is harde werk en verg baie konsentrasie. Daar is geen kortpaaie nie.
Die seleksie van bulle om in die kudde te gebruik, maak die grootste deel uit van jou moontlike toekomstige wins of verlies. Dit is hul nageslag wat as vroulike diere in jou kudde agterbly en dit is hul seuns wat jou veilingstandaard bepaal.
Hierdie uitkies van selfgeteelde bulle om in die kudde te gebruik, is seker een van die belangrikste en senutergendste aksies in stoetteling. Dit is menslik om te twyfel aan ons eie teling. Soos vroeër genoem, word hierdie seleksie op Hartebeestloop in September/Oktober gedoen, wat van die droogste maande by ons is. Die bulle is dan nie in die beste kondisie nie. Aan die begin van die dag is ons gewoonlik baie moedeloos en voel dit asof daar nie een goeie bul uit die groep gaan kom nie.
Moet egter nie wanhopig word en twyfel nie. As jy teeldoelwitte het, eerlik is oor dit wat jy wil versterk in jou kudde, jou omring met objektiewe medetelers of adviseurs en dan stap vir stap deur die Hartebeestloop-metode van gebruiksbulseleksie werk, gaan jy sodoende die potensiële risiko’s van verkeerde seleksie verminder.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie