Hoe nou?
Hoe nou?

Hoe nou?

Leandrea Louw
Ek het nie veel om te sê vandag nie. Daar ís baie om te sê, maar nie vandag nie. Wat ek wel kan sê, is dat die mense van Walvisbaai moeg is of soos Erwin Leuschner op KletsKompas gesê het, “gatvol”.

Nika Steenkamp is a graad-9 leerling in Walvisbaai. ’n Rukkie gelede het sy hierdie stuk geskryf en vir my gestuur.

Soos vir baie ander leerlinge in Walvisbaai, Swakopmund en Arandis, is daar geen teken dat skole nou enige tyd sal heropen nie. Kinders is onseker en die veral graad 12’s is angsbevange, want eksamen lê om die draai.

Maar voor ek te veel praat, hierdie is wat Nika te sê het.

“Die regering het met die klap van hul vingers ’n hele land tot stilstand gebring. Dis nie meer lekker nie. Dis nie meer lekker om winkels toe te gaan nie, want oral moet jy jou gesig toemaak, hande spuit en jou naam in ’n boek skryf en dit nog voor jy eers by die winkel in is.

“Dit is nie meer lekker om langs die lagoon te gaan stap en kyk hoe die son agter die water wegraak nie, want hier is heeltyd iets oor jou mond.

“Dit is nie meer lekker om op ’n parkie se bankie te gaan sit en gesels nie, want jy kan nie uitmaak wat die ander person onder sy masker sê nie.

“Wanneer gaan dit ophou? Ons word heeltyd hoop gegee dat ons weer begin na normaal terugkeer, maar ons word elke keer teleurgestel.

“Ek verlang so baie. Ek verlang my skool, my vriende en selfs my onderwysers. Ek verlang dit om hokkie te speel. Ek verlang dit om in die water te wees. Ek wil weer swem. Ek wil weer fiks wees, want om so by die huis te bly, maak ons gestelle in elk geval net swakker.

“Hulle sê dis ons land. Die kinders s’n, maar wat is hulle besig om van ons land te maak? Ons ekonomie is besig om elke dag nog meer agteruit te gaan en as dit so aangaan, wat sal daar vir ons oor wees? Hulle wil hê ons moet die land eendag by hulle oorneem en die volgende ministers, dokters, advokate word, maar hulle wil ons nie laat skool toe gaan nie. Om elke dag teen ’n skerm vas te kyk, is nie dieselfde as om in ’n klas te sit nie. Ons sukkel.

“Die kinders word lui om by die huis te sit. Ek wil selfs nie eens meer opstaan om my werk te doen nie, want ek kyk televisie. Dink net hoe onrustig is kinders in skool ná ’n maand se vakansie? Hoe gaan onderwysers kinders wat al vir drie maande by die huis sit weer in ’n klas kan beheer? Kan jy jou nou indink ná ’n jaar?

“Wat van families wat hul besighede aan hul kinders wou nalaat, maar nou die deure moes toemaak? Net hierdeur word ’n generasie geraak. Daar is nou kinders wat glad nie skool kry nie; wat word van hulle? Hoe moet ons eendag ’n land kan oorvat as ons nie eens nou aan ons voordeur se handvatsel kan raak nie?

“Wat word van die kinders? Wat word van ons drome? My droom is om eendag die president te word. My vriend droom om ’n rugbyspeler te word, maar gaan ons drome net drome bly?

“Môre is skool, nee volgende week, nee volgende maand, nee volgende jaar. Wanneer gaan dit ophou? Wanneer kan ons Namibië weer terugkry?”

Kommentaar

Republikein 2026-07-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer