Hoe gaan Mboweni SA uit diu00e9 gat kry?
Hoe gaan Mboweni SA uit diu00e9 gat kry?

Hoe gaan Mboweni SA uit dié gat kry?

Dawie Roodt sê hy dink die buurland gaan net al meer skuld aangaan.
Elvira Wood – “Hoe gaan Tito Mboweni ons uit hierdie gat kry?”

Dit is die groot vraag wat Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Groep, vra nadat die minister van finansies Woensdag die mediumtermynbegrotingsrede (MTBR) in die parlement voorgelê het.

Mboweni het ’n baie donker prentjie van die ekonomie geskets.

Die verwagte ekonomiese groei vir vanjaar is van 1,5% in Februarie se begroting tot net 0,5% afwaarts aangepas.

Boonop kan staatskuld teen 2023 meer as 70% van die bruto binnelandse produk (BBP) beloop, teenoor die minder as 60% wat nog in Februarie verwag is.

Die begrotingstekort vir vanjaar word nou op 5,9% van die BBP geraam, teenoor die 4,7% waarop nog in Februarie gehoop is.

Die teiken vir belastinginkomste word ook ver gemis en daar gaan vanjaar net R1 379 miljard se inkomste ingevorder word, wat 4% of R53 miljard minder is as verwag.

Roodt sê hoewel die syfers wat Mboweni vir vanjaar en die volgende paar jaar voorspel, beroerd is, hy bekommerd is dat dit steeds te optimisties is.

“Ek dink die minister van finansies is verkeerd. Ek dink die land se skuld gaan net nóg meer word.

“Dit sal vir die afsienbare toekoms druk op die rand plaas,” sê hy.

Die rand het juis Woensdag skerp verswak teenoor die dollar. Dit het selfs vir ’n kort rukkie wéér deur die R15-vlak teenoor die Amerikaanse dollar gebreek.

Dit het vroeg Donderdagoggend teen R14,96 teenoor die dollar verhandel.

“Die werklikheid is dat ons ’n nuwe minister van finansies het wat eerlik is oor die aaklige stand van die ekonomie.

“Die vraag is of hy ons uit hierdie gat kan grawe.

“Dit gaan baie lank neem en ek hou nie my asem op dat hy dit gaan regkry nie,” voorspel Roodt.

Die vakbond Solidariteit was ook nie beïndruk met die nuus wat die minister gedeel het nie.

Morné Malan, senior navorser verbonde aan die Solidariteit-navorsingsinstituut, sê die regering moet realistieser te werk gaan met die land se finansies en ophou om in die wolke te leef.

“In vergelyking met die begrotingsrede in Februarie sien ons, soos dit nou al vir amper tien jaar die geval is, dat ekonomiese groei weer afwaarts aangepas is.

“Dis eenvoudig. Ons sien keer op keer hoe die regering ons land se fiskale krisis onderskat en onvoldoende, dikwels teenproduktiewe, planne daarstel, wat dan – om dinge nog erger te maak – ondoeltreffend geïmplementeer word,” sê Malan.

“Tog, uiteindelik is die punt waarop die mini-begroting die verste tekort skiet, juis om ’n werkbare en duidelike visie vir die toekoms te skets. Die minister praat van die tafel dek vir ’n groter debat, maar hy bied geen konkrete voorstelle wat hulle daartoe leen nie.”

Business Unity South Africa (Busa) sê ook dat hoewel Mboweni gesê het “ons bestee meer as wat ons verdien” en “daar is nie meer tyd oor nie”, is daar min tekens wat wys dat die res van die regering die erns van die ekonomiese krisis verstaan.

“Die werklikheid is dat Suid-Afrika inklusief moet groei om werk te skep, armoede en ongelykheid te verminder en skuld te verminder. Daar was min in die minister se toespraak wat gewys het dat die regering die tesourie se ekonomiese plan substantief in werking gaan stel.

“ ’n Ekonomiese krisis – soos wat Suid-Afrika homself tans in bevind – kan nie reggemaak word deur klein hervormings te maak nie.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer