Hitman-opponent het steroïed-verlede

Paulus Moses, gewese WBA wêreldkampioen, berei hom tans voor vir sy vyfde versky-ning in 'n wêreldtitelgeveg.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - ’n Harde neut van Mexiko staan in die pad van die Namibiese bokslegende Paulus Moses (The Hitman) se groot kans om vroeg in 2018 weer ’n wêreldtitelhouer te word.

Die 39-jarige Windhoeker is op 16 Februarie bestem vir ’n botsing teen die 36-jarige Raymundo Beltran van Mexiko. Tydens die geveg in Reno, Nevada sal die Wêreldboksorganisasie (WBO) se liggewig wêreldgordel op die spel staan.

Op papier lyk Moses se rekord as voormalige WBA wêreldkampioen dalk ietwat beter (40 oorwinnings, 25 uitklophoue, drie verloor), maar ’n mens moet uiteraard heelwat meer van die fyner besonderhede en tegniese vaardighede in ag neem indien jy ’n voorspelling wil waag.

Die twee vegters het een gemeenskaplike opponent – Ricky Burns van Skotland het in 2012 die Namibiër met punte geklop.

Beltran (tans op 34 oorwinnings, 21 uitklophoue, sewe verloor, een gelykop) het ’n paar Noord-Amerikaanse titels gewen voordat hy in September 2013 vir Ricky Burns op sy tuisbodem in Glasgow om sy WBO-gordel gaan uitdaag het.

Hoewel die Mexikaan sy opponent se kakebeen in die tweede ronde gebreek het en hom in die agtste ronde platgeslaan het, moes hy met ’n omstrede gelykopuitslag tevrede wees.

Sedertdien was Beltran baie uitgesproke dat die tellinghouers hom ten gunste van die tuisbokser beroof het en dat ’n stelsel van strawwe vir swak tellinghouers en fouterende skeidsregters ingestel behoort te word.

In November 2014 het Beltran se tweede aanslag op ’n wêreldtitel misluk toe hy die gedugte Terence Crawford in Omaha, Nebraska die stryd gaan aansê het.

Dit was die stylvolle Amerikaner se laaste geveg in dié gewigsklas voordat hy ewe suksesvol na die junior weltergewigklas opgeskuif het, waar hy vanjaar die gewigsklas se vier betekenisvolle wêreldtitels met ’n uitklophou teen Namibië se Julius Indongo verenig het.

Hoewel Beltran dapper geveg het vir die redelik seldsame prestasie om Crawford vir die volle 12 rondes besig te hou, het hy met twee toegeswelde oë die prys betaal. Die tellinghouers was eenparig dat Crawford feitlik elke ronde gewen het (119-109, 119-109, 120-108). Beltran het agterna gesê Crawford is die mees intelligente bokser teen wie hy nóg geveg het en die volgende superster van die sport.

STEROÏED

Beltran het in Mei 2015 positief vir die anaboliese steroïed stanazolol getoets ná sy oorwinning met ’n uitklophou in die tweede ronde teen Takahiro Ao van Japan.

Die geveg sou vir ’n vakante WBO liggewig-wêreldtitel wees, maar die gordel is nie toegeken nie omdat Beltran nie die gewigsperk kon haal nie. Die uitslag is agterna ook verander van ’n oorwinning vir Beltran na “geen uitslag”.

Beltran was gevolglik vir nege maande geskors en is ook ’n boete van US$25 500 (nagenoeg N$ 000) opgelê. Hy moes ’n skoon toetsuitslag lewer voordat hy sy bokslisensie kon terugkry. Al sy planne vir die volgende groot geveg moes gekanselleer word.

Sedertdien het die Mexikaan wat in Phoenix, Arizona woon, egter ’n suksesvolle terugkeer tot die kryt gemaak en het vyf oortuigende oorwinnings op ’n streep behaal.

Vier daarvan was met uitklophoue teen respektabele opposisie soos Ivan Najera (16 gewen, 2 verloor), Miguel Angel Mendoza (23 gewen, 8 verloor, 2 gelykop), Mason Menard (32-1) en Jonathan Maicelo (25-2). In sy mees onlangse geveg in Augustus vanjaar het hy die aanslag van Bryan Vasquez (35-2) met punte afgeweer om die WBO-kampioen vir Noord-Amerika te bly.

TEELAARDE VAN KAMPIOENE

Geen land op die planeet het meer wêreldbokskampioene as Mexiko (meer as 180) opgelewer nie en boks is een van die land se vernaamste sportkodes.

Geen Namibiese vegter kon nog ’n oorwinning teen ’n Mexikaan behaal nie. Verlede jaar het Paulus Ambunda as IBO superkapokgewig wêreldkampioen by die Ramatex-kompleks eenparig met punte verloor en sodoende sy titel aan die WBA-kampioen van Mexiko, Moises Flores, afgestaan.

Harry Simon (senior) het in sy fleur as wêreldkampioen met ’n paar Argentyne afgereken, maar sy pad het nooit met ’n Mexikaanse opponent gekruis nie.

Simon, Moses en Ambunda is sover die enigste Namibiërs wat gordels van die vyf gerekende wêreldbeheerliggame (WBA, WBO, WBC, IBF of IBO) kon inpalm.

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer