Hingste op Vredendal beproef
Hingste op Vredendal beproef

Hingste op Vredendal beproef

Klubrugby
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Twee sulke harde wedstryde in die voorseisoen is presies wat FNB Wanderers wou gehad het en plaas die rugbyklub op 'n goeie voet vir die komende seisoen.

So sê hoofafrigter Vince Dreyer na afloop van laas naweek se blitstoer na Vredendal in die Wes-Kaap, waar die eerste en tweede spanne beide teen die Platteland Barbarians gespeel en naelskraap verloor het.

“Ons mikpunt met die toer was om spankultuur en harmonie vir die seisoen te bou. Twaalf ure op die bus en fisieke rugby teen 'n bitter taai span het hieraan voldoen,” sê Dreyer.

Die Wit Hingste, wat vanjaar hul titel in die Namibië Rugby-unie se premierliga verdedig, het volgens Dreyer duidelikheid verkry oor die beoogde spelpatroon en die huidige stand van fiksheid, asook die diepte wat tot die beskikking van Dreyer en sy voorspeler-afrigter Henry Kemp is.

“Ons gevestigde spelers en die nuwe aansluitings het goed gekombineer en veral ons eerste span se voorspelers het hulle goed van hul taak gekwyt.”

Wanderers se driedrukkers was die stut Petri Burger, agtsteman Riaan de Klerk, slot Stef Botha en vleuel Elmarco Beukes. Vleuel Rudi Pretorius het twee doelskoppe oorgeskop.

Die afrigter sê Dirk de Meyer (flank), die vleuel-aanwins Donaville Lebereki en Jamie Joseph op buitesenter was manne wie se vertonings vermelding verdien.

“Petri Burger het as stut indruk gemaak met sy fisiekheid in kontak en ook sy goeie ondersteunende spel. Petri het begin in die plek van Nian Berg (kaptein van laas jaar se kampioenspan) wat voor ons vertrek sy rib gekraak het, maar Nian sal betyds vir die premierliga herstel wees.”

Wanderers se voorsitter, Willem van Zyl, sê: “Die Platteland Barbarians, het ons Saterdag uitgevind, word deur 'n baie streng keurkomitee gekies. Nie sommer enige iemand stap net daar in en speel nie. Hulle kies basies die beste spelers van 'n klomp klubs in die omgewing wat in hul liga deelneem. So, dis basies 'n klubstreekspan.



TERUGGEVEG

“Net ná halftyd was ons met 7-27 agter. Ons het goed teruggekom en toe net-net met 24-27 verloor. Die wind het lekker gewaai en die skoppers het dus gesukkel.

“Dit was 'n baie harde, fisieke wedstryd. Ons is trots op ons manne dat hulle aanhou veg het tot die einde. Karakter word net gebou met sulke tipe wedstryde. Dit lê ook 'n baie goeie fondasie vir ons klub vorentoe.

“Ons tweede span het ook teen 'n baie sterk span gespeel. Dit was 'n wipplank wedstryd waar ons twee keer voorgeloop het. Ons was in die laaste minuut nog met 19-18 voor, maar staan toe met die laaste beweging 'n drie af en verloor met 24-19.

“Ons spanne was nie op volle sterkte nie, maar ons haal steeds ons hoed af vir al die manne wat kon saamgaan en wat hul harte uitgespeel het. Ons is opgewonde oor die komende seisoen.

“Ons is ook reeds besig met die Platteland Barbarians om volgende jaar by ons te kom toer vir ons klub se 100-jarige vieringe.”

Borge wat die blitstoer help moont­lik maak het, was FNB Namibia, Tyre­Rack, Distell Namibia (Richelieu), Mikel Jes, die Wecke n Voigts-groep, R&R Importers, Strategic Marketing (DeoVit), Africa Personnel Services, BDO en Anton Smit Joinery.

Kommentaar

Republikein 2025-08-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer