Hierdie ou spoorwegdorp is nie meer dieselfde
Hierdie ou spoorwegdorp is nie meer dieselfde

Hierdie ou spoorwegdorp is nie meer dieselfde

Mandy Rittmann
ANONIEM SKRYF:

Usakos was in die 1960'ers 'n bedrywige dorp en met die destydse spoorweë die grootse werkverskaffer.

Die sekondêre skool was toe oorvol en die dorp het floreer. Ambagsmanne is hier opgelei en behalwe vir Swapol was hier ook nog 'n spoorwegpolisiekantoor. Wet en orde is streng gehandhaaf en misdaad was byna nul. Dit was 'n bedrywige stasie en selfs lokomotiewe en trokwaens is hier herstel.

Usakos het 'n sterk rugbyspan gehad en die manne was vroeg al hardebaarde. Die Erongoklub was 'n gewilde kuierplek en die flieksaal baie gewild onder ouers en skoolkinders. Selfs Karibib se mense het Vrydagaande deurgery Usakos toe om bioskoop te kom kyk.

So was die munisipale swembad 'n lekker kuierplek vir veral skool en koshuiskinders. Hier was 'n groot boeregemeenskap en 'n sterk munisipaliteit.

Stukkende strate, lekkende krane en ander waterlekkasies is vinnig herstel, vullisverwydering was weekliks op tyd gedoen. Vullis is nie gestort op sypaadjies nie en jy moes aan die munisipaliteit rapporteer om jou tuinvullis te verwyder, wat sommer vinnig gedoen is.

Die munisipaliteit se geldsake was gesond en belastingbetalers het hulle munisipale rekeninge gereeld betaal. Die burgermeester en stadsklerk was gesiene mense en inwoners was vir hulle byna net so bang as vir die skoolhoof. In die aande was dit stil in die strate en wet en orde het geheers. Usakos het vreedsaam geleef.



DRIE KISHOUE

Vroeg in die 1970'ers kom Rössing toe na Usakos en onderhandel vir grond met die munisipaliteit om vir hulle werksmense hier huise te bou. Die hoë roessyfer was ook 'n rede hoekom na Usakos gekyk is en Usakos het grond en water.

Die sakekamer en munisipale raad van daardie tyd het uit blanke kapitaliste bestaan en hulle het kapsie gemaak teen Rössing se voorgenome planne om grond vir sy werksmense te bekom. Duidelik is gesê en versprei dat Usakos nie 'n myndorp nodig het nie.

Dit was die begin van die eerste val van Usakos. Rössing is Swakopmund toe en ons weet almal vandag dat Rössing Swakopmund help opbou het, tot verlies van Usakos.

Kort hierna het die Suid-Afrikaanse spoorweë te kenne gegee dat hulle bedrywe na Windhoek verskuif moet word. Dit was die tweede val van Usakos.

Baie werksmense is verplaas en die stasie en werkswinkels is tot stilstand geruk. Die sekondêre skool het begin leegloop en al meer leë huise het in Usakos ontstaan.

Terselfdertyd het die groot droogte Usakos getref en baie boere moes oppak en verhuis. Dit was die derde val van Usakos. Baie plase het leeggelê en is hoofsaaklik net gebruik vir naweekboerdery. Die totale karakoelbedryf het ook tot stilstand gekom.



SEDERT 1990

Met onafhanklikheid op 21 Maart 1990 het die vierde groot val begin.

Die munisipaliteit is verpolitiseer en politiek het nou die munisipaliteit bedryf. Daaglikse politieke onderstrominge het veroorsaak dat geen belangrike munisipale sake bevorder is nie.

Die dorp en ander woonbuurte het vervuil en dienste het al swakker geraak. Die sogenaamde CEO's het nie meer die munispale wette onderhou nie, en hier word gemaak en gebreek. Boerderye is sommer binne erwe van inwoners toegelaat. So het onwettige sjebeens toegeneem en 39 van hulle is vandag bekend.

Veediefstal in en om Usakos is byna 'n daaglikse gebeurtenis en die polisie kan of wil dit nie verhinder nie.

In 2006 kom Valencia na Usakos. Weereens soek hierdie myngroep grond om in Usakos te belê. Dit word gesê dat die dorpsraad toe reeds etlike miljoene dollar vir twee hektaar wou hê en dit het Valentia genoop om Arandis toe te skuif.

Dit was die vyfde val van Usakos, geen verdere belegging of enige werkverskaffing op Usakos nie.



'KAPITALISTE'

Intussen het blanke kapitaliste alle sakegeboue opgekoop met die doel om Usakos se sake weer aan die gang te kry. Dit was net 'n foefie en al daardie geboue staan na 27 jaar steeds toe en geen werk is vir plaaslike inwoners geskep nie.

Soos een grondbaron sê: “Ek is 60 miljoen Namibiese dollar sterk, ek hoef nie my geboue te verhuur nie, ek het niemand se geld nodig nie.”

Die teenvraag is: “Meneer, hoeveel belasting betaal jy?” Waar is die munisipale wette nou en word dit nagekom?

Die vullisgate van Usakos is vandag twee maal so groot soos die dorpsgebied self. Dit is nie afgekamp nie en het reeds die Hakaseb- en Erongo-woonbuurtes bereik.

Vullisstorting vind in elke straat en by meeste huise plaas. Ongeag dat inwoners belasting en vir vullisverwydering moet betaal, word die dorp nie skoongemaak nie.

Praat met verbygangers om hier te belê en hulle sê reguit: “Wil jy hê my besigheid moet hier vergaan in julle vullis?"

Die CEO verdien 'n salaris van by die N$50 000 per maand, maar is net op kantoor en ek weet nie of hierdie leier weet wat in die dorp aangaan nie.

Die nuwe dorpsraadgeboue is op privaatgrond opgerig en moes uitgekoop word sodat dit nie afgebreek kon word nie. Dit is die stand van dorpsbeplanning van die dorpsraad.

Hulle het geen benul oor enige leë erwe of wat behoort aan wie nie.

Die burgermeester sien van agter sy donkerbrille blykbaar geen gebreke of vullis in die dorp raak nie. Hy floreer egter op sy eie, private eiendomme.

Dorpsgronde word nie beheer of gekontrolleer nie, en elkeen kan daarop boer soos hy wil, want sien, van die dorpsraadslede het dalk self diere daarop.



MORGE ONBENUTTE GROND

TransNamib het groot stukke grond binne Usakos se woongebied en die gronde lê reeds meer as 50 jaar onbenut. Dit sou so maklik wees van die dorpsraad om na die regering toe te gaan en te vra dat daardie erwe aan die dorpsraad vervreem word, want sien, TransNamib behoort mos aan die staat, dan nie?

Valencia het 'n paar jaar gelede 'n groot tuinery op Usakos geskep en dit later aan die dorpsraad oorhandig. Dit staan vandag verlate, leeg met geen landerye nie.

Die sakegemeenskap kan nie in 'n globale sakekamer gesnoer word nie, want elkeen soek mag en klou daaraan soos 'n magneet. Selfsug en afguns is die orde van die dag en meer tyd word spandeer om oor die heining te kyk waarmee andaer besig is as om jou eie besigheid te bevorder en werk vir die inwoners te verskaf.

Geen noemenswaardige belegging, behalwe 'n nuwe motorhawe, het die afgelope 27 jaar op Usakos plaasgevind nie. Daar is geen visie of enige bestuur/strategiese plan om Usakos se vooruitgang te beplan nie. Baie planne is wel op papier maar die kennis om dit te implementeer en werkbaar te maak, ontbreek.

Dit is mos reeds alom bekend dat 'n plan net 'n stuk papier is, net soos die die munisipale wette.

Solank die dorpsraad nie vanuit die sakesektor self kom nie, sal Usakos nie sy kop kan oplig nie. Staatsamptenare hoort nie op die dorpsraad nie, hulle het hul eie beroepe.

Dit is in kort die verlede en hede van Usakos. Hy het sy eiesoortige probleme, geskep deur mense en dieselfde mense het vandag nie die visie of begrip om sake hier reg te ruk nie.

Dit gaan oor eiebelang, selfsug, magsug, selfverryking en wetteloosheid. Daar word geskep soveel jy kan om jou eie sak vol te stop.



VOORWAARTS

Hierdie is praktiese voorbeelde van politieke en kapitalistiese mag op Usakos.

Die sesde val van Usakos gaan fataal wees.

Usakos moet uit sy slaap geruk word en die droë hout moet eenvoudig uit en weg. Daar is nuwe bloed in Usakos nodig en mense met 'n visie.

Laat die wat wil Usakos regeer en hom uit sy vervalle situasie red.

Kommentaar

Republikein 2025-07-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer