Hier kraai ontspanning koning
Hier kraai ontspanning koning

Hier kraai ontspanning koning

Tanja Bause
Tanja Bause

Die Hobasen Montana Lodge buite Rehoboth spog nie net met die enigste openbare swembad op die dorp nie, maar dit is ook sinoniem met ontspanning en avontuur.
Hobasen, wat “jy het dit nou gevind” in Nama beteken, het in 2007 met slegs konferensiefasiliteite begin. Daar is ook gereeld troues gehou en dit is nou nog ’n gewilde venue vir troues, veral omdat me. Vicky Cloete alles vir die bruidspaar kan reël – van ’n fotograaf en versierings tot die spyseniering en ’n troukoek.
Vyf jaar gelede het me. Cloete se seun, Jerome, besluit dit is nodig om uit te brei, en vier kamers gebou waar gaste kan oornag.
“Ons volgende uitbreidings was in 2013 toe ons die swembad en 24 braaiplekke gebou het. Ons het verlede jaar ’n gemiddeld van sowat 1 000 mense per naweek hier gehad. Gaste het selfs uit Windhoek gekom om hier te ontspan,” sê Cloete.
’n Glybaan vir kinders maak die swembad ’n trekpleister, so ook ’n trampolien, terwyl die kiosk vir verversings sorg.
Cloete het ’n sokkerveld aangebring waar 5-aan-’n-kant-sokkertoernooie sedert verlede naweek plaasvind.
“In die toekoms gaan ons elke Vrydagaand sulke toernooie vir die gemeenskap van Rehoboth hou,” het Cloete gesê.
Vlugbal kan op die grasperk gespeel word en Cloete beplan om vlugbal­wedstryde aan te bied.
“Verlede September het ons Rehoboth se eerste ‘colour party’ gehou en dit was ’n reusesukses. Ons maak hierdie jaar beslis weer só.”
Hobasen Montana Lodge het ook verfbalfasiliteite en teen einde Augustus sal die nuwe minigholfbaan gereed wees.
“Ons beplan om selfs meer aktiwiteite in die toekoms aan te bied. Ons het ’n pragtige berg hier agter wat vir wandelroetes en bergklim gebruik kan word. Van daar bo kan ’n mens die hele Rehoboth sien.”

Kommentaar

Republikein 2025-06-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer