Hier help vroue mekaar

Tanja Bause
Tanja Bause - In 'n klein gebou in die Tseiblaagte-nedersetting van Keetmanshoop probeer vroue 'n inkomste met hul naaldwerkvaardighede verdien.

Die Karas Huisen Crafts-projek is in 2010 gestig om vroue met MIV/vigs by te staan. Huisen beteken “help jouself” in Nama.

Die Karas Huisen Crafts-projek is deur die Tsjeggiese organisasie People in Need begin en ondersteun.

Al die produkte wat die vroue destyds gemaak het, is na Tsjeggië uitgevoer en daar verkoop. Die geld is daarna weer in die projek teruggeploeg.

Die ondersteuning het egter tot 'n einde gekom en in 2014 het die projek vir 'n jaar lank sy deure gesluit.

“Ons het geen bestellings gehad nie en kon nie oop bly nie. Maar nou is ons weer aan die gang en probeer om weer op ons eie aan te gaan. Die vroue het die inkomste nodig,” het me. Ida Humpfries gesê.

Op die oomblik is daar net vier vroue by die projek betrokke. Hulle maak hoofsaaklik opgestopte diere soos kameelperde en renosters vir kinders – wat baie gewild is.

“Ons het ons produkte by die Craft Centre in Windhoek verkoop, maar dit het nie goed gegaan nie. Nou verkoop die vrou wat as verkoops­dame daar aangestel is, die speelgoed en produkte op haar eie en sy het reeds 'n bestelling by ons geplaas,” het sy gesê. Daar het ook onlangs 'n bestelling van Swakopmund af gekom.

Omdat die vroue nie vooruit werk nie, spring almal aan die werk wanneer bestellings geplaas word.

Om 'n ekstra inkomste te verdien, verhuur die organisasie deel van hul geriewe aan ander vroue.

Die projek het ook twee borduurwerkmasjiene waarmee hulle hemde, hoede en lappe met handelsmerke versier.

Me. Marina Matroos het op skool naaldwerk leer doen en is nou deel van die Karas Huisen Craft-projek.

“Dit is vir my lekker om kleurvolle speelgoed vir kinders te maak. Ek hoop hulle het soveel pret daarmee soos ek het om dit te maak,” het sy gesê.

Die projek ondersteun ook ma's wat weens hul MIV/vigs-status nie hul babas kan borsvoed nie. Poeiermelk word deur die Anglo American Namibië-­stigting geborg. Op die oomblik word 13 vroue, van wie twee op Lüderitz woon, deur die projek ondersteun.

Kommentaar

Republikein 2025-06-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer