Herero, Nama gaan voort met hofsaak oor volksmoord
Herero, Nama gaan voort met hofsaak oor volksmoord

Herero, Nama gaan voort met hofsaak oor volksmoord

Indien die Duitse regering nie voor ‘n Amerikaanse hof in New York verskyn nie, loop hierdie ontwikkelingsvennoot volgens die aansoekers die gevaar dat die hof by verstek teen hulle sal beslis.
Catherine Sasman
Catherine Sasman – Duitsland se onwilligheid om dusver te reageer op volksmoordeise wat by die federale hof van die VSA ingedien is, skrik nie leiers van die Ovaherero en Nama af nie.

Verteenwoordigers van die Ovaherero tradisionele owerheid en die Nama tegniese volksmoordkomitee sê hul sal die saak tot sy logiese uiteinde najaag.

Die geraakte groep beskuldig die Duitse regering van sloertaktiek, aangesien die respondent glo weier om die dagvaarding en pleitstukke te aanvaar en nog nie hofverrigtinge bygewoon het nie.

“Duitsland het elke rede om bekommerd te wees om in die hof te verskyn,” het adv. Vekuui Rukoro, opperhoof van die Ovaherero, gister tydens ‘n nuuskonferensie in Windhoek gesê. “Hulle kan hardloop, maar nie wegkruip nie.”

Die Duitse regering se regsmaneuvers sal volgens die eisers die gemeenskappe wat die eisers verteenwoordig, bloot radikaliseer en hul geloof in hul saak versterk. Volgens die eisers sal hul saam met internasionale solidariteitsgroepe vir geregtigheid veg, “maak nie saak hoe lank dit duur nie”.

‘n Skikking sal na hul mening al moeiliker word so lank daar op slagoffers neergekyk word.

In Maart het ‘n afvaardiging van die eisers in New York ‘n sitting oor die bestuur van die saak voor regter Laura Taylor Swain bygewoon. Volgens Rukoro was die Duitse regering nie teenwoordig nie en het die land daarna ook geweier om die dagvaarding of pleitstukke by beide sy ambassades in Washington en New York in ontvangs te neem.

Duitsland het vroeër versoek dat prosesse volgens die Den Haagse Konvensie geskied. Hiervolgens kan ‘n land in sy hoofstad of deur diplomatieke kanale gedagvaar word.

“Ons het toe al geweet Duitsland sal elke moontlike truuk uitput om verantwoordelikheid vir die volksmoord teen die Nama en Herero te ontduik,” het Rukoro aangevoer.

Die saak is aanvanklik tot 21 Julie verdaag en toe tot 13 Oktober nadat die eisers genader is om die Den Haagse Konvensie te volg.

Volgens Rukoro is die eisers se prokureur opdrag gegee om hierdie “laaste skuiwergat toe te maak waaragter die Duitsers wil wegkruip”. Die dagvaarding en pleitstukke sal nou via diplomatieke kanale na Berlyn gestuur word.

Die eisers is steeds gekant teen die “geheimsinnigheid” waaronder onderhandelinge oor die volksmoord tussen die Namibiese en Duitse regerings geskied. Die eisers dring aan om direk met die Duitse regering te onderhandel.

Kommentaar

Republikein 2024-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Premier League: Luton Town 1 vs 1 Everton | Chelsea 2 vs 0 Tottenham Hotspur LaLiga: Getafe 0 vs 2 Athletic Club SerieA: Torino 0 vs 0 Bologna Katima Mulilo: 12° | 32° Rundu: 13° | 32° Eenhana: 13° | 32° Oshakati: 15° | 32° Ruacana: 15° | 33° Tsumeb: 16° | 30° Otjiwarongo: 13° | 29° Omaruru: 13° | 31° Windhoek: 12° | 27° Gobabis: 15° | 28° Henties Bay: 14° | 21° Wind speed: 24km/h, Wind direction: S, Low tide: 06:39, High tide: 12:59, Low Tide: 18:48, High tide: 01:14 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 32km/h, Wind direction: S, Low tide: 06:37, High tide: 12:57, Low Tide: 18:46, High tide: 01:12 Walvis Bay: 16° | 25° Wind speed: 36km/h, Wind direction: S, Low tide: 06:37, High tide: 12:56, Low Tide: 18:46, High tide: 01:11 Rehoboth: 14° | 29° Mariental: 17° | 31° Keetmanshoop: 19° | 31° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 15° | 25° Ariamsvlei: 18° | 33° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 25° | 28° Gaborone: 14° | 27° Lubumbashi: 12° | 26° Mbabane: 12° | 26° Maseru: 11° | 25° Antananarivo: 13° | 24° Lilongwe: 13° | 27° Maputo: 19° | 28° Windhoek: 12° | 27° Cape Town: 15° | 19° Durban: 17° | 28° Johannesburg: 16° | 25° Dar es Salaam: 24° | 28° Lusaka: 15° | 27° Harare: 13° | 28° #N/A #N/A