Hentiesbaai se vervalle isolasiefasiliteit kry aandag

Adolf Kaure
Adolf Kaure – Die goewerneur van die Erongostreek, mnr. Neville Andre, het gesê skoonmakers het Vrydag nadat hulle hul opleiding voltooi het, begin om die isolasiefasiliteit op Hentiesbaai skoon te maak.

Tydens die weeklikse Covid-19-inligtingsessie by die Swakopmund-munisipaliteit het Andre gesê die kantoor van die goewerneur het vyf skoonmakers van die regering ontvang. Hulle moet verseker die fasiliteit is gereed om Covid-19-pasiënte te akkommodeer.

“Die skoonmakers moes opleiding ontvang om te verseker hulle ken die protokol om nie geïnfekteer te word nie en om in ’n omgewing te werk waar mense is wat positief vir Covid-19 getoets is.

Hulle het Vrydag begin skoonmaak en sal die fasiliteit te alle tye skoon hou.”

Dit volg nadat ’n man van Walvisbaai gekla het oor die isolasiefasiliteit op Hentiesbaai nadat hy positief getoets en na die fasiliteit gestuur is.

Die klaer wat anoniem wil bly, werk as ’n kontrakteur vir ’n skoonmaakmaatskappy wat die hospitaal by die kus skoonmaak.

Volgens hom het die pasiënte self begin om die fasiliteit skoon te maak nadat hy laasweek daarnatoe gestuur is.

“Ons het besluit om onsself in groepe in te deel en die fasiliteit skoon te maak aangesien daar nie ’n skoonmaker aangestel is nie,” het hy per telefoon gesê.

Die klaer het sy ontevredenheid oor die gebrek aan toilette in die fasiliteit uitgespreek. In ’n blok van 51 pasiënte is daar slegs drie toilette, net een van die drie toilette spoel en slegs een van die wasbakkrane het lopende water.

Hy is ook ontevrede omdat die seephouer in die badkamer gedurig leeg is, daar geen papierhanddoeke in die badkamer en geen vullisdromme in die toilette en badkamers is nie.

“Daar is geen handreiniger beskikbaar nie. Die badkamers in die isolasiefasiliteit het geen warm water nie alhoewel mense in kwarantyn aanbeveel word om hulle hande gereeld met warm water te was. Ek weet baie van higiëne en hoe ’n gesondheidsfasiliteit behoort te lyk om aan die nodige standaarde te voldoen.”

Die goewerneur het gesê hulle het die isolasiefasiliteit in 'n vervalle toestand ontvang, aangesien dit vir 'n paar jaar nie gebruik is nie.

“Die gebou was die nasionale jeugdiens se opleidingsentrum voordat ons dit as isolasiefasiliteit vir Covid-19-pasiënte ontvang het. Die gebou het vir sowat twee jaar leeg gestaan.”

Andre het gesê ’n loodgieter het die krane en toilette Donderdag herstel.

“Ons het ’n paar handreinigers gegee sodat die mense ten minste hulself kan ontsmet. Ons werk aan die ander probleme om te verseker die fasiliteit is geskik om Covid-19-pasiënte te akkommodeer.” - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer