Henties loop deur onder misdaad
Tanja Bause
Hentiesbaai ervaar op die oomblik ’n toename in diefstal en huisinbrake.
In die sosiale media word berig van huise op Noord-Duin, Suid-Duin, die sentrale dorp en Omdel wat gebuk gaan onder inbrake
Mnr. Mervin Bailey se huis het ook deurgeloop. “Ek het ’n huis op Henties, maar ek werk nog op die oomblik in Windhoek. Ek het gereeld by my huis uitgekom om seker te maak alles is reg, maar met die Covid-19-inperkings het dit die laaste tyd moeilik begin raak.”
Bailey het op 6 Julie omstreeks 03:40 ’n oproep van sy Henties-buurman ontvang wat vir hom gesê het hy het nou net ’n geluid buite gehoor. Sy buurman het ’n man gesien en hom agtervolg. Sowat 20 m van Bailey se huis af, het die buurman op Bailey se splinternuwe kragopwekker afgekom en besef daar is groot moeilikheid en vir Bailey geskakel.
“Ek het onmiddellik die polisie op Hentiesbaai gekontak en vir hulle my buurman se nommer gegee. Ek het vir ’n permit aansoek gedoen en na Henties gery. Toe ek op Usakos aankom, het ek die polisie weer gekontak net om te hoor hulle het nog niemand uitgestuur nie. Ek was om 14:30 op Hentiesbaai en het in my leë huis ingestap.”
Bailey het na die polisiekantoor gery en ’n sersant gaan haal aangesien daar nie voertuie beskikbaar was nie.
“My huis is gestroop. Alles is weg. Al my vrou se elektroniese toerusting is weg. Al ons beddegoed, klere en skoene. Die monitor van die kameras is gesteel, so ek kan nie eers daarop kyk nie. Die man het in my huis gebly. Oral het bakke met kos rondgestaan wat half geëet was.”
Bailey vermoed die man het weens die Covid-19-inperkings net voor 21:00 by die huis aangekom en rustig die goed bymekaargemaak wat hy die volgende dag wou wegdra. Hy is net voor 04:00 weg met die items.
“Toe hy klaar my huis gestroop het, het hy my motorhuis oopgebreek en dit ook leeg gedra. Die probleme het lank voor die tyd begin toe my bure aan die anderkant ’n hok teenaan my grensmuur gebou het en die munisipaliteit geweier het om my te help dat dit verwyder word.”
Bailey se grensmuur is oor die 2 meter hoog en bo-op dit is nog lemmetjiesdraad. Sy bure het in Junie ’n hok uit hout, plastiek en karton teenaan sy muur gebou. Hy het die munisipaliteit ingelig en hulp gevra omdat die hok teen die munisipale regulasies is, ”maar dit was tevergeefs”.
“Die man het op die hok geklim en is op dié manier oor my muur. Hy het my asdrom in die ander hoek geplaas met my sandsakke bo-op sodat die drom stewig staan en so het hy weer my erf verlaat. Die man het nie net gesteel nie, hy het ook binne in my huis skade aangerig. Hy het byvoorbeeld ‘n deur afgeskop. Ek skat die skade beloop tussen N$40 000 en N$50 000.”
NOG INBRAKE
Op Facebook het inwoners hul misnoeë te kenne gegee oor die styging in inbrake op dié kusdorp.
“Og, dis seer as mense so besteel word in dié moeilike tyd. Daar is by vriende van ons se motorhuis in Omdel ingebreek en onder meer die sweismasjien, mikrogolf, TV en gereedskap is gesteel. Dit raak nou baie baie erg met die inbrake op Henties.”
“Mense in Henties is gatvol vir jou. Ek vermoed hy is op die groep want dit was die heeltyd Noord-Duin en nou ewe skielik is dit Suid-Duin,” het ’n man gesê nadat hy gereedskap en voetspore in sy erf ontdek het.
“Mense die inbraak en diefstal raak nou rêrig baie erg hier in Omdel ook, hulle het genadeloos ons snoepie gisteraand oopgebreek en ons besteel. So ‘n nederige plekkie wat ek oopgemaak het om my kinderhuis aan die gang te hou, juis omdat ek nie meer wil rond vra nie, het hulle my slot afgebreek en my goed gesteel. Jy wat daar ingebreek het moet weet my God sluimer of slaap nie.”
“So verstaan ons dat die strate in Henties gepatrolleer word, maar tog kry die kriminele dit reg om nog steeds in te breek.
Vrydag by my huis ingebreek. Hulle was seker op straat om noodsaaklike dienste te verrig. Hoe kry die krimineel dit reg om vrylik in die strate in Henties rond te loop tydens lockdown en nog te steel ook. Tweede inbraak die jaar.” - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie