Helfte van Namibiu00ebrs sonder toilette
Helfte van Namibiu00ebrs sonder toilette

Helfte van Namibiërs sonder toilette

In stedelike gebiede staan ontlasting in die oopte op 20%, en dít meestal in informele nedersettings.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - ‘n Beraamde 1,2 miljoen Namibiërs (sowat 50%) ontlas in die oopte.

In landelike gebiede styg dit tot 76%, maar die persentasie wissel tussen die verskillende streke van 35% in die Hardap- tot 80% in die Ohangwenastreek.

In stedelike gebiede staan ontlasting in die oopte op 20%, en dít meestal in informele nedersettings.

Volgens die minister van landbou, bosbou en water is daar ook duidelike ongelykhede met betrekking tot toegang tot sanitasiegeriewe in landelike en stedelike gebiede.

Slegs 15% van landelike huishoudings het volgens me. Anna N. Shiweda toegang tot verbeterde sanitasiegeriewe, in vergelyking met die 55% in stedelike gebiede.

Shiweda was aan die woord tydens die bekendmaking van die Eenyma- en Okakango Konduda-nedersetting, in die Eenhana-kiesafdeling in die Ohangwenastreek, wat amptelik die status van ‘n oop ontlastingvrye gebied (ODF) verwerf het.

Dié status is behaal danksy die toepassing van die gemeenskapsgebaseerde totale sanitasie-benadering (CLTS) wat fokus op die verandering van gedrag, en wat ook die uitgangspunt van die Nasionale Strategie vir Sanitasie van 2008 is.

Dié benadering is vir die eerste keer in 2014 deur die stigter van CLTS, dr. Kamal Kal van Bangladesh, in Namibië bekend gestel.

Die doel van CLTS is om gedrag ten opsigte van higiëne te verander sodat ontslae geraak kan word van oop ontlasting en sodat sanitasiegeriewe in gemeenskappe kan verbeter.

Volgens die minister is die negatiewe impak van swak higiëne en sanitasiepraktyke op kinders goed bekend en lei dit jaarliks wêreldwyd tot ten minste 1,5 miljoen kinders onder die ouderdom van vyf se dood.

“In Namibië word sowat die helfte van die sterftes en siektes van kinders onder die ouderdom van vyf jaar toegeskryf aan voorkombare en behandelbare siektes, wat hoofsaaklik deur swak higiëne en sanitasiepraktyke veroorsaak word,” het Shiweda gesê.

Dié siektes sluit diarree, wurms en lugweginfeksies soos longontsteking in. Daarmee saam is 24% van kinders onder die ouderdom van vyf jaar se groei vertraag, en dít kan aan swak water-, sanitasie- en higiënetoestande (WASH) toegeskryf word.

Shiweda het voorts na die huidige uitbreking van hepatitis E in die land verwys, wat tot dusver die lewens van 33 mense geëis het, terwyl byna 4 000 gevalle landswyd aangeteken is.

“Hepatitis E word deur kontak met ontlasting oorgedra, wat wys hoe belangrik die veilige verwydering van menslike afval is. Hande moet ook te alle tye met lopende water en seep gewas word vóór en ná maaltye voorberei is, ná jy die toilet besoek het en ná ‘n baba se doek omgeruil is.”

Volgens Shiweda geniet toegang tot drinkbare water en sanitasiedienste nasionale voorkeur, en is dit in verskeie sleutelbeleidsrigtings, ontwikkelingsplanne en strategieë vervat.

Al 33 huishoudings in die Eenyama-nedersetting, wat 270 mense huisves, sowel as die 268 inwoners van die Okakango Konduda-nedersetting, het volgens die minister nou ODF-status.

“Wat deel van al ons pogings moet wees en veral in Namibië, is dat mense se ingesteldheid moet verander, en nie net dat sanitasiegeriewe voorsien word nie.”

Shiweda het ‘n studie aangehaal wat ‘n gaping tussen kennis en die toepassing van higiënepraktyke in Namibië uitwys.

“Dit wys ons pas nie die kennis wat nodig is in praktyk toe nie. Ons veldtogte moet alle vlakke van die samelewing teiken en veral op skoolgaande kinders as agente van verandering fokus.”

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer