Heelwat vrae oor Niger-aanval
Heelwat vrae oor Niger-aanval

Heelwat vrae oor Niger-aanval

Die swanger weduwee van ‘n Amerikaanse soldaat wat in ‘n lokval in Niger doodgeskiet is, sê pres. Donald Trump het gesukkel om sy naam te onthou toe hy haar gebel het om meegevoel te betuig.
NAMPA
Pres. Donald Trump se oproep aan Myeshia Johnson wie se man, sersant La David Johnson, op 4 Oktober in ‘n djihadistiese aanval dood is, het ‘n storm van omstredenheid ontketen en kom midde vrae oor hoe die aanval plaasgevind het.

La David was een van vier Amerikaanse soldate wat in die voorval gesterf het.

"Ja, die president het gesê dat hy (La David) geweet het waarvoor hy hom inlaat, maar dit maak steeds seer,” het Myeshia op ABC se TV-program “Good Morning America” gesê in haar eerste openbare opmerkings ná die dood van haar 25-jarige man.

"Dit het my laat huil en ek was baie kwaad oor sy stemtoon en hoe hy dit gesê het.”

Myeshia, wat met die egpaar se derde kind swanger is, sê sy het “gehoor hoe hy (Trump) oor sy woorde struikel en probeer om my man se naam te onthou, en dit het my die seerste gemaak”.

"Die enigste manier waarop hy my man se naam onthou het, is omdat hy aan my gesê het hy het my man se verslag voor hom en dit is toe dat hy uiteindelik La David gesê het.

Trump het onmiddellik op Twitter teruggekap en aangedring: “Ek het ‘n baie respekvolle gesprek met die weduwee van sersant La David Johnson gehad en sy naam van die begin af sonder aarseling gesê.”

Besonderhede van Trump se telefoonoproep is verlede week deur ‘n Demokratiese kongreslid bekend gemaak, wat aangevoer het dat die president Johnson se vrou aanstoot gegee het. Dit het beskuldigings van die Withuis uitgelok dat die aangeleentheid verpolitiseer word.

Die relletjie, wat al hoe erger word, duur reeds vir die tweede week voort. Dit het Trump se stafhoof, John Kelly, ‘n voormalige generaal wie se seun in Afganistan dood is, genoop om op emosionele wyse die president te verdedig. Hy het terselfdertyd onder die Florida-kongreslid, Frederica Wilson, ingevaar.

Myeshia het ABC meegedeel dat Wilson se weergawe van die oproep “100 persent korrek” was en sê sy is ‘n lewenslange familievriendin wat oor die luidsprekerfoon na die gesprek geluister het.

Die dispuut kom midde vrae oor wat presies in Niger gebeur het en wat die weermag se reaksie ná die tyd was.

Genl. Joseph Dunford, voorsitter van die gesamentlike weermagstafhoofde, sê “ons is die Amerikaanse mense ‘n verduideliking verskuldig van wat hul mans en vroue op hierdie besondere tyd doen”.

Myeshia wil ook antwoorde hê oor hoe haar man dood is. Sy is aanvanklik meegedeel dat daar “massiewe geweervuur was” en dat “my man op 4 Oktober vermis geraak het”, het sy aan ABC gesê.

"’n Paar dae later is ek meegedeel dat hy nie meer vermis is nie, maar in aksie dood is.

“Ek weet nie hoe of waar hy dood is nie.” - Nampa/AFP

Kommentaar

Republikein 2025-08-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer