Hartlief-werkers terug op hul pos
Hartlief-werkers terug op hul pos

Hartlief-werkers terug op hul pos

Bykans 260 werknemers kry N$400-verhoging, terugwerkend tot Julie verlede jaar.
Augetto Graig
Augetto Graig – Hartlief-werkers het Maandagoggend om sesuur weer aangemeld en begin werk nadat ’n staking sedert 28 Desember eindelik Vrydag beëindig is.

Volgens mnr. Lister Tawana, die Namibiese Unie vir Voedsel en Verwante Werkers (Nafau) se nasionale koördineerder vir opleiding en navorsing, is die skikking wat met Hartlief se moedermaatskappy Ohlthaver en List (O&L) bereik is, ’n prestasie. Die ooreenkoms is Vrydagmiddag onderteken.

“Die staking is beëindig,” sê hy.

Ingevolge die skikking kry 259 werknemers binne die onderhandelingseenheid ’n verhoging van N$400 maandeliks, terugwerkend vanaf Julie 2021, asook ander voordele wat hul loon met N$770 sal verhoog. Hy sê hierdie werknemers verdien tussen N$2 000 en N$10 000 ’per maand. Boonop het O&L ingestem om sy pensioenbydraes vir die werknemers vanaf 8% na 11% te verhoog.

“Ons het vir die werkgewers gesê aan die onderhandelingstafel te kom sit. Van Maart tot Augustus kon ons dit opgelos het, selfs in Oktober verlede jaar voor ons uiteindelik op 1 Desember die arbeidsministerie moes betrek. Ons doen 'n beroep op werkers om saam te staan. Met verenigde aksie is niks onmoontlik nie. Wat van hierdie staking ’n sukses gemaak het, was die eenheid. As daar verdeeldheid is, bevoordeel dit die maatskappy,” sê hy.

Hartlief se stakende werkers het nog elke oggend gedurende die staking by die vleisverwerker opgedaag, maar nie gewerk nie. Dit het produksie gestop.

“Ons kon nog meer druk toegepas het, byvoorbeeld met die kwessie van bonusse of die sowat 70 werknemers wat sowat twee jaar terug vanaf Windhoek Schlachterei oorgeplaas is en steeds N$500 minder as die anders kry vir behuising. Ons het die land se ekonomie in ag geneem en die impak van Covid-19, en dit laat vaar. Ons sal dit in die toekoms aanpak,” sê Tawana.

Vrae hieroor aan O&L was teen druktyd nog onbeantwoord. Een vraag is hoe nywerheidsaksie in die toekoms vermy kan word en hoe die staking die groep beïnvloed het.

Met die aankondiging van die verkoop van meerderheidsaandeelhouding in Namibia Breweries Limited (NBL) aan Heineken Suid Afrika in November, het groep se uitvoerende voorsitter, mnr. Sven Thieme, gesê die opbrengs sal gebruik word om maatskappye in die groep te ontwikkel.

Hy het spesifiek na Hartlief, wat ook 'n filiaal in Suid Afrika het, verwys een moontlikheid vir O&L plan om nog groot maatskappye soos NBL te skep.

“Dink net met iets soortgelyk aan die ‘Reinheitsgebot’ (reinheidsopdrag) soos ‘Fleischermeister’ (meesterslagter), kan Hartlief se vleis elke naweek deel van almal in Suid Afrika se braai wees asook die verwerkte vleis,” het hy in ’n onderhoud genoem. [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer