Harte van goud en u2019n geheue soos u2019n olifant
Harte van goud en u2019n geheue soos u2019n olifant

Harte van goud en ’n geheue soos ’n olifant

Sanet Pearson
Die lewe is so gejaagd. As jy jou oë uitvee, dan is nog ’n week verby.

Ek het altyd gedink dit is ’n grootmensding. Hoe ouer jy raak, hoe gouer gaan die tyd verby. Ek kan nie onthou toe ek kleiner was dat die tyd so gou verby gegaan het nie. Of noudat ek daaraan dink, miskien kan ek net nie meer, as gevolg van ouderdom, so ver terug onthou nie!

Oukei, ek mag dalk aan die verkeerde kant van 40 wees, maar ek glo my verstand is nog helder en my geheue nie té sleg nie.

Moet net nie vir my kinders oor hul ma se geheue vra nie!

Jy mag dalk ’n ander antwoord kry. Volgens hulle is hul ma nie ver daarvan af om gesertifiseer te word nie, en is my geheue besig om vinnig te gaan.

Dit bring my by verlede week. Die week het soos enige ander week begin – nie rêrig iets om oor huis toe te skryf nie. Maar toe tref die paw paw die fan.

Alles gebeur op een slag: As dit nie my kar is nie, dan is dit afsprake wat nou gemaak en nagekom moet word. En dan moet die kinders nog rondgery word.

Probeer daardie een sonder ’n kar. Dit werk nie so lekker nie. Dan kom ’n mens agter hoe bevoorreg jy is om jou eie kar te hê én dat jy bevoorreg genoeg is om die petrol so soortvan te kan bekostig.

My kar was die eerste strooi. ’n Waarskuwingsboodskap verskyn op my skermpie. Ek besluit om vroegoggend na die werkswinkel te gaan om te vra wat fout kan wees.

Die antwoord: Daar kan dalk water in my diesel wees en dit kan groot skade veroorsaak as ek aanhou ry.

Wel, ek los my kar toe daar. Ek het rêrig gedink die probleem gaan gou uitgesorteer word. Na verskeie oproepe kry ek toe nie my kar dieselfde dag terug nie. Wat nou? Loop ons huis toe of wat? Ná een oproep van ’n engel word gereël my swaer sal ons op pad huis toe oplaai. Maar wat van die volgende oggend, hoe kom die kinders by die skool en ek by die werk?

Toe stel iemand met ’n hart van goud voor ons leen haar kar vir die aand. In vandag se lewe is sulke mense skaars. Dit het ons só baie gehelp. Ek kan haar nie genoeg bedank nie. Die volgende dag kry ek my kar eers 16:00 terug.

Ek moes die goeie samaritaan se kar weer eens leen. En sy het wéér aangebied sonder om twee keer te dink. So tussendeur het nog ’n klomp goed gebeur wat my nader aan sertifisering gebring het, maar gelukkig het alles ten goede uitgewerk.

Die laaste instansie wat ek wil bedank, is die Windhoek-munisipaliteit. Ek moes ’n compliance-sertifikaat by hulle kry. Ek het Maandag gaan aansoek doen, die inspekteur het Woensdag uitgekom en Donderdagnamiddag ontvang ek die SMS om te sê die sertifikaat is gereed om afgehaal te word. Dít noem ek goeie diens.

Ek is net bly alles het uitgewerk soos dit moes, maar ek belowe jou, om kop te hou tydens ’n week soos verlede week, moet jy hare op jou tande hê, senuwees van staal en ’n geheue soos ’n olifant – en miskien ’n paar los skroefies, net om alles te balanseer.

Kommentaar

Republikein 2025-10-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer