Hare kloof oor hare was
Hare kloof oor hare was

Hare kloof oor hare was

[email protected]
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Ek kan my eie hare was. Almal kan glo nie hul eie hare was nie.

Toe ek klein was, het ek dit gehaat as my ouma my hare was. Sy het my hare getrek en die water het in my ore ingeloop.

Dit het my gepynig as sy die koeke uit my fyn hare probeer kam. My ma het spesiaal vir my Untangle-sjampoe gekoop sodat my hare nie koek nie.

Dan het my ouma my hare of gevleg of met krullers ingedraai dat dit lokke maak wat sy met strikke styf teen my kop vasgebind het.

Ek was my ouma Anna se oudste kleindogter wat haar baie grys hare gegee het. Ek wou nie brei, hekel of koekies bak nie. As rabbedoe wou ek net buite saam met my nefies en die diere speel, perd ry, in die plaasdam swem en kettie skiet. Binnenshuis wou ek ure lank klavier speel of boeke verslind.

Toe Lady Diana die eerste keer op Huisgenoot se voorblad met haar deurskynende romp verskyn het, het ek my hare kort soos hare laat sny.

Gelukkig was my ouma toe uit my hare uit, ook met my niggies se opwagting.

Hulle is pragtige poppies met lang, blonde hare wat sy kon was en vleg en hulle het van hekel en brei gehou. Naaldwerk was die eerste en enigste vak wat ek op skool gedruip het.

Verlede week was ’n groot bohaai in Australië oor die klaagliedere van die Australiese tennisspeler Bernard Tomic en sy mooi meisie, Vanessa Sierra, wat in kwarantyn in ’n hotelkamer voor die Australiese Ope moes bly.

Die arme Vanessa kan nie haar eie hare was nie. Sy het twee gesonde arms en hande, maar sy sê sy het nog nooit haar eie hare gewas nie. Ek kan verstaan as ou tannies met tenniselmboë of rumatiek nie hul eie hare kan was nie.

“Ek was nie my eie hare nie. Ek het nog nooit my eie hare gewas nie. Dit is eenvoudig nie iets wat ek doen nie. Onder normale omstandighede betaal ek haarkappers om dit twee keer per week vir my te doen,” het Vanessa gesê.

“Ek kan nie wag om uit kwarantyn te kom sodat ek net my hare kan laat doen nie.”

Vanessa kla ook oor die hotel se koue kos, skat – net soos Marita van der Vyfer se karakter, Clara Brand, in die gelyknamige boek.

Toe bars die bom en die arrogante, uitgesproke Australiese tennisspeler, Nick Kyrgios, was toe haar kop behoorlik. Nick, wat nie ’n wag voor sy mond het nie, het sommer die Serwiese tennisspeler Novak Djokovich ook geroskam en sê hy is ’n lummel.

’n Britse poniekoerant het vir Vanessa ’n “pampered sook” genoem.

Vanessa sê almal is baie lelik met haar en sy het doodsdreigemente ontvang. Sy sê sy het eintlik net ’n ou grappie gemaak. Ai Vanessa, dat jy nou so met ’n witbrood onder die arm uit ’n luukse hotelkamer kan kla. Ryk mense met hul eerstewêreldprobleme grief my, hul ou flou grappies en verskonings ook.

Kan Vanessa se aanvallige tennisspelerkêrel nie maar haar hare was as haar gemanikuurde vingers, wat so vlytig op sosiale media kan tik, dit nie kan doen nie? Dit kan baie romanties wees, of sal dit dalk sy aandag van die Australiese Ope aftrek?

Ek maak nie hond haaraf dat so erg hare gekloof word oor hare was nie. Hoe moet kankerpasiënte voel wie se hare weens chemoterapie uitgeval het?

Vanessa kan bly wees my ouma het nie haar kop gewas nie.

Kommentaar

Republikein 2025-12-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer