Hardapdam te leeg vir besproeiing
Hardap se besproeiingsboere staar moontlike ekonomiese verliese in die gesig omdat hul watertoevoer binnekort kan opdroog.
Elvira Hattingh - Vir die eerste keer in die geskiedenis sal NamWater nie watertoevoer na besproeiingsboere rondom die Hardapdam kan volhou nie.
Inteendeel, teen die huidige verbruikersvlakke kan besproeiingswater reeds teen Desember vanjaar opdroog, wanneer die damvlakke die 4,5%-merk bereik. Die oorblywende 14,009 Mm³ (miljoen kubieke meter) water sal slegs vir huishoudelike gebruik en as drinkwater vir vee gebruik word.
NamWater se bestuurder van hidrologie, mnr. André Mostert, het gister aan Republikein verduidelik dat die beskikbare water in die Hardapdam nie twee reënseisoene kan hou nie, weens die afgelope swak reënseisoen.
Dit is ook so tydens ‘n onlangse vergadering op Mariental aan belangegroepe oorgedra.
Mostert sê die feit dat dit die eerste keer is vir so iets om te gebeur, is nog ‘n bewys van hoe ernstig die huidige droogte is.
“NamWater soek altyd ‘n oorbruggingstydperk van twee reënseisoene, vir ingeval ‘n swak reënseisoen voorkom en beskikbare water tot ‘n opvolgende seisoen moet kan hou,” het Mostert verduidelik.
NamWater gebruik modelle om damme se maandelikse verdamping en waterverbruik by te hou, en bepaal daarvolgens hoe lank beskikbare bronne nog sal hou.
“Teoreties mag Hardap se besproeiingsboere 40 Mm³ per jaar gebruik. Dit sou beteken die dam sal vir hulle genoeg water tot in Februarie 2020 hê, wat darem in die helfte van die volgende reënseisoen sou wees.
“In werklikheid blyk dit, volgens ons watermeters, dat besproeiingsboere eintlik 48 Mm³ per jaar gebruik. Teen dié tempo sal die beskikbare water vir besproeiing reeds teen tussen November en die einde van die jaar uitgeput wees,” het Mostert verduidelik.
AFSNYPUNT
Watertoevoer vir besproeiing rondom die Hardapdam word gestaak wanneer die dam ‘n vlak van 4,5% bereik.
Mostert het verduidelik dié afsnypunt word deur die dam se infrastruktuur bepaal omdat die uitlaatvlakke hiervoor dan gelyk met of bó die watervlak is.
“Dus is dit fisies dan nie meer moontlik om water vir besproeiing te onttrek nie.”
Hy sê as die infrastruktuur verander en ‘n pomp geïnstalleer word om by die orige water te kom, sal dit ‘n enorme pomp wees wat sowat 40 Mm³ water per jaar moet kan lewer – twee maal soveel as wat Windhoek gebruik. Mostert sê wel mense en diere geniet hoogste prioriteit as watervlakke so laag daal en dat hierdie afsnypunt dus ook as ‘n beskermingsmeganisme dien.
Mostert erken die wending kan tot ekonomiese verliese vir boere lei en dat hulle hiervolgens sal moet beplan oor watter gewasse en sade om volgende aan te koop.
“Hulle sal waarskynlik nog een keer kan oes, maar die watertekort sal beslis ‘n invloed op die opvolgende oes hê.”
DORP SE WATERSEKURITEIT
Wanneer die Hardapdam se watervlak tot op 4,5% daal, sal Mariental self nog genoeg water vir twee reënseisoene oor hê, of tot Maart 2021.
“NamWater laat sak ‘n pomp by die damsluise om water te onttrek nadat damvlakke reeds dooieberging-status bereik het. Die dorp se situasie is dus nie só krities soos dié van die besproeiingsboere nie.”
Mostert sê daar moet ook in berekening gebring word dat water steeds aan nabyliggende, groot vark- en beesboerderye verskaf sal word. Tans gebruik die veeboerderye besproeiingswater vir hul diere, maar wanneer dié water nie meer gelewer kan word nie, sal hulle van gesuiwerde drinkwater voorsien moet word.
Mostert sê dit beteken ‘n groot hoeveelheid gesuiwerde water sal gelewer moet word, wat daartoe kan lei dat die suiweringstelsel onder erge druk geplaas en watervoorsiening by tye onderbreek kan word.
“Hulle gaan water hê, maar dalk nie altyd as hulle dit soek nie. In die geval gaan dit nie oor hoeveel water beskikbaar is nie, maar wel hoeveel die stelsel in ‘n gegewe tydperk kan suiwer,” het Mostert verduidelik.
Hy sê tans graviteer water vanaf die suiweringsaanleg na die dorp. NamWater is besig om ‘n pomp aan te bring om water vinniger van die suiweringsaanleg weg te voer.
BESPARINGS
Mostert sê Mariental se inwoners kan ‘n verskil maak deur te bespaar op die ongesuiwerde damwater wat hulle in hul tuine gebruik.
Hy sê dit is ‘n moeilike situasie omdat die watergebruiksverhouding 1 tot 40 is, met besproeiingsboere wat 40 keer meer water as die dorp gebruik. Volgens hom gebruik Mariental self sowat 1,3 Mm³ per jaar.
“NamWater sal voorts gereelde vergaderings met Mariental se munisipaliteit en Hardap se besproeiingsboere hou. Ons monitor die situasie weekliks en maak maandelikse analises. Dit is ons plan vir aktiewe kommunikasie.”
Volgens inligting wat NamWater verskaf het, sal die volgende vergadering met belangegroepe waarskynlik in Augustus plaasvind.
Oor menings dat die situasie beredder kon word as NamWater nie sowat ‘n jaar en ‘n half gelede 10 Mm³ water van die Hardapdam na die Neckartaldam uitgelaat het nie, sê Mostert dit is hoogs onwaarskynlik. “Dié water sou ‘n verskil van hoogstens drie tot vier weke gemaak het, gesien in die lig dat daar vir besproeiing alleen sowat 1 Mm³ water per week onttrek word.
“Dit het ‘n impak op die huidige situasie, maar dit is so gering dat dit weglaatbaar is,” het Mostert gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie