Hanse-Himarwa hou00ebrhof toe
Hanse-Himarwa hou00ebrhof toe

Hanse-Himarwa hoërhof toe

Die minister van onderwys, kuns en kultuur is gisteroggend deur die voorsitter van die Nasionale Raad by die hof ondersteun.
Denver Kisting
Denver Kisting – Me. Katrina Hanse-Himarwa, die minister van onderwys, kuns en kultuur, het gisteroggend tydens ‘n vlugtige verskyning in die landdroshof op Mariental gehoor sy gaan in die hoërhof in Windhoek verhoor word.

Landdros Anna Kruger het gelas die voormalige goewerneur van die Hardapstreek moet Donderdag 21 Junie vanjaar ‘n voorverhoorsitting in die hoërhof in die hoofstad bywoon.

Sy staan tereg op een klag van korrupsie wat met haar termyn as goewerneur verband hou.

Hoewel Hanse-Himarwa se regsverteenwoordiger, mnr. Sisa Namandje, nie gisteroggend in die hof was nie, het hy ‘n brief gestuur waarin hy bevestig hy tree namens haar op en dat die staat reeds alle tersaaklike dokumente aan hom beskikbaar gestel het.

Adjunk-aanklaer-generaal Nita Meyer het gister die staat verteenwoordig.

Aangesien Hanse-Himarwa nie in hegtenis geneem is nie en sy eerder gedagvaar is om gister in die hof te verskyn, is sy gewaarsku om in Junie by die hof te wees.

Intussen het die voorsitter van die Nasionale Raad, me. Margaret Mensah-Williams, gistermiddag wal gegooi oor haar teenwoordigheid by die hof. Mensah-Williams sê sy was Donderdag op ‘n amptelike besoek aan Mariental. Toe haar ma Vrydag ongesteld word en in die hospitaal opgeneem is, het sy verlof geneem en was gevolglik steeds gister op Mariental en het vir Hanse-Himarwa gaan ondersteun.

“Ons is almal van Mariental. Ons het albei hier grootgeword,” sê sy.

Buitendien het die hofverrigtinge van Hanse-Himarwa wat sy bygewoon het, “net vyf minute geduur”, het sy by navraag gesê.

Hanse-Himarwa het Vrydag ‘n uitgebreide verklaring oor die dagvaarding op die amptelike briefhoof van die ministerie uitgereik waarin sy sê sy verwelkom die geleentheid om voor die hof gedaag te word om haar kant te stel.

Hanse-Himarwa het in 2014 twee name van begunstigdes onder die massabehuisingskema na bewering afgehaal en met twee van haar familielede s’n vervang.

Die minister het tussen 2005 en 2015 as goewerneur gedien.

Mensah-Williams en die adjunkminister van gesondheid en maatskaplike dienste, me. Juliet Kavetuna, was vroeër vanjaar in die pekel toe dit aan die lig gekom het Mensah-Williams het glo in Suid-Afrika met haar ampsmotor gaan vakansie hou en Kavetuna het met hare sement gekarwei.

Kommentaar

Republikein 2025-07-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer