Handel en verbeterde voedselsekuriteit
Handel en verbeterde voedselsekuriteit

Handel en verbeterde voedselsekuriteit

Dit moet aanvul, nie temper
Ronelle Rademeyer
Dr. Kobus Laubscher



'n Onlangse publikasie van die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) getiteld The State of Agricultural Commodity Markets, wys op die delikate balans tussen handel en voedselsekuri­teit.

Voedselsekuriteit se vier bekende dimensies, nl. voedselbeskikbaarheid, -toegang, -benutting en -stabiliteit kan in stryd wees met nasionale ontwikkelingsprioriteite.

Die substreek is besig om die las van ernstige droogtes af te skud met reën wat die produksievermoë van lande só kan herstel dat invoerafhank­likheid kan afneem en selfs ophou.

Globale handel het vraag en aanbod gebalanseer, selfs oor grense heen.

Behalwe dat die doeltreffende werking daarvan weer eens bewys was van die grensloosheid van markte, moes verbruikers opdok.

Om weer selfvoorsienend te word, kan egter lei tot skynwelvaart in gevalle waar invoerlande grense wil sluit om binnelandse produksie te beskerm, en sulke beleidsinisiatiewe binnelandse pryse laat styg bo dit wat globaal geld.

Andersyds is daar vraagtekens oor die mededingendheid van pryse waarteen sekere kommoditeite uitgevoer word, omdat regerings beskerming in die vorm van ­allerlei subsidies gee.



Namibië

Namibiese graanboere word beskerm teen goedkoper graan uit Suid-Afrika­, en die ­Suid-Afrikaanse pluimveebedryf is in omstrede debatte en gedinge betrokke om beweerde storting van hoendervleis te beperk of te stop.

Wat ook al die onderliggende beleid is, iemand betaal daarvoor - en na bewering is dit verbruikers.

Andersyds is daar 'n sterk saak ten gunste van opkomende bedrywe waar pryse volhoubaarheid bepaal. In Namibië moes die plaaslike suiwelbedryf as gevolg van die mededingendheid van invoere, herskik. Ander bedrywe moes hulle tot die howe wend vir be­skerming.

Pres. Jacob Zuma se staatsrede vandeesmaand het klem gelê op die belangrikheid van meer doeltreffende streekshandel.

Die voetwerk sal fyntrap vra, want vanweë die disproporsionele groottes van die onderskeie markte in Suider-Afrika­, kan Suid-Afrika so domineer dat die vrese van kleiner ekonomieë bewaarheid word.



Aanvul

Hierteen waarsku die FAO: handel moet voedselsekuriteit aanvul, nie temper nie.

Invoerlande met vrye toegang verhoog beskikbaarheid en kan prysdruk verminder as daar tekorte in die invoerland is, maar dit kan riskant wees. Invoerafhanklikheid en afhanklikheid van internasionale markte kan lande blootstel aan pryswisselvalligheid as gevolg van wisselkoersveranderinge, sowel as beperkende aanbod van uitvoerders.

Suid-Afrika is byvoorbeeld 'n netto uitvoerder van mielies in die streek, maar met die droogte het die hele substreek gely as gevolg van die feit dat Suid-Afrika mielies vir eie gebruik moes invoer. Trouens, lande in die subkontinent moes meeding met Suid-Afrika om skaars witmielies in die wêreldmarkte.

Vir oorgrenshandel om werklike ontwikkeling te dryf, is 'n beleidsmengsel die oplossing. Dit lyk tans of die gaping tussen voornemens en implementering nog te groot is.

Invoervervanging is 'n besliste dryfkrag vir ekonomiese groei, maar ontwikkelende lande word tot versigtigheid gemaan om té gou, té veel handelsvryheid toe te laat.

Dit kan binnelandse produksie-bevorderingsbeleide ernstig kniehalter. Die nakoming van die Agoa met die VSA het die Suid-Afrikaanse pluimveebedryf besonder kwesbaar gemaak, terwyl dit weer nuwe markte oopgemaak het vir ander kommoditeite.



Gevolge

Wie moet instaan vir dié onbedoelde gevolge?

Die meeste lande in die subkontinent is in 'n staat van ontwikkeling en ekonomiese transformasie. Landbou se rol as ekonomiese groeidrywer word deurlopend herbekyk en hoewel vryer handel dit kan komplementeer, ­kan dit noodsaaklike transformasie inhibeer.

Die sluiting van die grens tussen Namibië en Suid-Afrika wat die uitvoer van speenkalwers betref, het ontwrigting aan beide kante van die grens veroorsaak.

Namibiese produsente kon nie doelftreffend bemark nie. Gevolglik het pryse betekenisvol gedaal, terwyl die rooivleis-waardeketting in Suid-Afrika die voordele van 240 000 speenkalwers verloor het.

Suid-Afrikaanse rooivleisprodusente kon beter pryse behaal, maar daar was bedenkinge oor of die hoër speenkalfpryse, wat aanleiding gegee het tot hoër verbruikers­pryse, volhoubaar was.

Kommentaar

Republikein 2025-05-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer