Hage ís Swapo-president
Swapo se politburo het volgens die adjunksekretaris-generaal van die party, me. Laura McLeod, nie enige optrede teen adjunkminister Bernardus Swartbooi bespreek toe dit Maandag vergader het nie.
Estelle de Bruyn
'n Ernstige vermaning is aan Swapo-lede gerig om op te hou om na die Swapo president, dr. Hage Geingob, as die waarnemende president van die party te verwys.
Die adjunksekretaris-generaal van Swapo, me. Laura McLeod, het 'n nuuskonferensie oor die besluite van die politburo toegespreek en gesê die politburo het “met kommer” van die tendens kennis geneem.
McLeod het daarop gewys dat die sentrale komitee, die hoogste besluitnemingsliggaam tussen kongresse, op 8 April 2014 bepaal het dat Geingob die “volle presidentskap” van die party oorneem, nadat oudpres. Hifikepunye Pohamba aangedui het dat hy uittree. Al die instrumente van mag en gesag van die party is deur Pohamba op 19 April 2014 by die Oshakati-stadion aan Geingob oorhandig, ingevolge die besluit van die sentrale komitee. Dit is ook tydens die eerste vergadering van die sentrale komitee ná die ampsoorhandiging herbevestig.
“Om hierdie rede veroordeel die politburo hierdie gedrag en gesindheid om na die president as die waarnemende president te verwys aangesien dit nie net verkeerd en onaanvaarbaar is nie, maar ook onuithoudbaar is en tot 'n einde moet kom,” het McLeod gesê.
Sy het daarop gewys dat Maandag se vergadering van die politburo glad nie 'n buitengewone byeenkoms was wat met 'n spesifieke doel byeengeroep is nie, maar 'n normale geskeduleerde vergadering, die 20ste van sy soort sedert die 2012-kongres.
Met verwysing na die kongres van Swapo se vroueraad op Keetmanshoop, het McLeod vir me. Eunice Iipinge, wat tot sekretaris verkies is, en me. Fransina Kahungu, wat die nuwe ondersekretaris is, gelukgewens.
Meer lig is ook op die stryery vooraf onder die Swapo-vrouens in die Omaheke-streek gewerp. McLeod sê 'n brief is voor die vrouekongres deur die politburo ontvang, waarin op onreëlmatighede met die samestelling van die afvaardiging na die kongres gewys is. Swapo het dus 'n ondersoekspan na die streek gestuur onder wie se wakende oog 'n verkiesing gehou is om die afgevaardigdes te kies. Hierdie afvaardiging het wel na Keetmanshoop gereis en die kongres bygewoon.
Op navraag oor of optrede teen die adjunkminister van grondhervorming, mnr. Bernardus Swartbooi, tydens die vergadering van die politburo bespreek is, het McLeod gesê “al die sake wat deur die politburo bespreek is, is in die mediaverklaring uiteengesit” en dat Swartbooi se uitlatings teen die minister van grondhervorming, mnr. Utoni Nujoma, nie ter sprake gekom het nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie