Hage nie skuldig aan haatspraak
Hage nie skuldig aan haatspraak

Hage nie skuldig aan haatspraak

Uitsprake deur die president teen wittes is in konteks nie geneig om haat tussen verskillende rassegroepe aan te wakker nie.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Haatspraak is opsig self nie ’n oortreding in Namibië nie en die land het geen wetgewing wat dit verbied nie. Ook is die term nie so gedefinieer dat alle spraak teen so ’n definisie gemeet kan word nie.

Volgens ’n verslag van die Namibiese ombudsman, adv. John Walters, is openbare verklarings wat onenigheid veroorsaak en die gevoel van vyandigheid en kwaadwilligheid tussen verskillende rassegroepe of persone wat aan verskillende rassegroepe behoort, aanmoedig of aanhits, nie meer strafbaar volgens die wet teen rassediskriminasie nie.

Walters se verslag volg nadat die Popular Democratic Movement (PDM) ’n klag van haatspraak teen pres. Hage Geingob ingedien het.

Die klag verwys na Geingob wat op 17 Oktober tydens Swapo se veldtog vir die streekraad- en plaaslike owerheidsverkiesings gesê het, “ons het gesien wit mense registreer in groot getalle. Ek het dit nog nooit sien gebeur nie. En hulle sê enigiets anders as Swapo. Ek het dit opgemerk en ek gaan dit nie vergeet nie. Mense wat oorlog teen Swapo verklaar. Swapo wat hulle gehelp het om vrede en eenheid te geniet, die gemak wat hulle al hierdie tyd het en om oorlog teen Swapo te verklaar. Ek het julle gehoor.”

Die PDM het in sy klag gesê dit beskou die opmerkings as “onderdrukkend, intimiderend en teenstrydig met 'n aantal bepalings in die Namibiese Grondwet wat die fundamentele regte van alle Namibiërs beskerm, veral die reg om ten volle aan politieke aktiwiteite sonder intimidasie of dwang deel te neem”.

Die party het ook gesê die opmerkings is ’n oortreding van die wet teen rassisme omdat dit “sonder twyfel wit mense intimideer en rasseverdeling in Namibië teen wit mense aanwakker”.

Laasgenoemde kan “katastrofiese gevolge vir vrede en stabiliteit” in die land inhou, sou dit nie hanteer word nie.

In sy verweer het Geingob gesê dit was “politiese opmerkings” oor ’n waarneming en het nie gesinspeel of uitdruklik wit mense geïntimideer nie en ook nie gesê hulle het “verminderde” regte nie.

Volgens Geingob is hy geregtig om sy mening as burger van die land en as president van Swapo te huldig. Hy het ook in sy verklaring aan die ombudsman gesê “dit is absurd” om van die president te verwag om by politieke byeenkomste nié te sê dit is Swapo wat vrede, vryheid en onafhanklikheid na die land gebring het nie. Hy het daarom nie enige fundamentele regte oortree nie.

Volgens die ombudsman was die kernaspek van Geingob se toespraak die erkenning “ons het julle gehoor”. Die betrokke frases waarop die klag gemik is, sê Walters, is in konteks nie geneig om haat tussen verskillende rassegroepe aan te wakker nie. Dit is ook nie ’n oortreding van wit mense se grondwetlike regte nie. Intimidasie is wel ’n kriminele oortreding wat deur die polisie hanteer moet word. Dit is ook wangedrag onder die riglyne vir optrede van politieke aktiwiteite deur politieke partye met betrekking tot verkiesings en behoort by die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) aangemeld te word. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer