Haastige perde versamel op Kobos
Haastige perde versamel op Kobos

Haastige perde versamel op Kobos

Perdewedrenne
Kobos Racing bied môre die Independence Handicap 2018 perdewedrenbyeenkoms as deel van die land se onafhanklikheidvieringe aan.

Die byeenkoms word op die plaas Kobos, nagenoeg 60 km suid van Rehoboth, gehou en beloof om ’n groot trekpleister te wees. Altesame tien wedrenne word aangebied met perde van oral in die land wat gaan deelneem.

Die hoofwedren is oor 1800 meter en beloof om toeskouers op hul voete te hê met bekende name soos Suruptitious, Kings Kitten (CFD Syndicate), China, La Myst (Angermund Racing), Barossa Valley (Kobos Racing), Black Market (Kariko Racing) en die nuweling Over Achiever (Junius Racing) wat al menige resiese in die buurland Suid-Afrika verower het.

’n Behoorlike naelbyter vir die skare behoort in die graduasie-afdeling te wees met perde soos Oro Negro (Kobos Racing) wat koning gekraai het by die Prep Run 2018 op Rehoboth. Hy sal die stryd aangesê word deur perde soos Navaronne, Double D (H Feris), At The Royal, Sun Dynasty (Angermund Racing) en die nuweling uit Suid-Afrika Nomenclature (Junius Racing) om net ’n paar te noem.

In die D-afdeling gaan ook vonke spat met groot name soos Flying Gitano (Kobos Racing), Not On My Watch (G. Mouton), Prince de Lago (Angermund Racing) en vele meer.

In die Maiden-afdeling word ook sterk kompetisie tussen die jongelinge Target Search (Kobos Racing), die nuweling Lemon Gingerinie (Junius Racing) en Ravishing Boy (Alberts stalle) verwag.

Die dag se wedrenne word begin met ’n resies van eg Namibies geteelde perde soos Brandy (Kobos Racing), Evita (Junius Racing), Royal Defender en Emmies Rose.

Kobos Racing wil ook met die byeenkoms hulde bring aan mnr. Leon Angermund wat vroeg vanjaar skielik uit ons midde geneem is. Hy was ’n mentor vir die resiesklub en sentraal in die beplanning van die klub se eerste groot byeenkoms wat in 2017 gehou is. Hy was voorwaar ’n steunpilaar en sou ook ’n groot bydrae gemaak het tydens hierdie byeenkoms.

Kobos Racing bedank ook ieder en elke borg vir hul bydrae en insette wat gelewer is om die byeenkoms ’n sukses te maak, in besonder vir Angermund Transport (mnr. N. Angermund) vir sy steun en bereidwilligheid. Die borge sluit in Eagle Eye Technologies, Pedro’s Renovations, dr. Wilfred Bezuidenhout, DM Freight, Frank van Wyk Carriers, Angermund Transport, Roadguard, Electro Investments en R. Christiaans.

Toegang vir die dag beloop N$20 vir volwassenes en N$10 vir kinders.

Die byeenkoms word afgesluit met ’n lekker dans die aand om Namibië se onafhanklikheid en die dag se wedrenne en wenners behoorlik te vier.

Kommentaar

Republikein 2025-05-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer