Haarkapper met Job se geduld

Tanja Bause
Tanja Bause

In ’n woonstel in Otjomuise is ’n kleurvolle paradys waarheen kinders gaan om hul hare mooi te maak.

Gina Carlos van Gio Hair Studio het die wêreld se geduld met kleintjies.

“Toe ek jonger was, het ek lang hare gehad en ek het dit gehaat as mense my hare doen, want dit was baie seer. Ek het myself geleer om my hare te versorg. Ek was so 11 jaar oud. Ek het van daardie tyd af geweet ek wil met hare werk en nie net met hare nie, maar spesifiek met kinders se hare,” het sy gesê.

Ná skool het sy in ’n vriendin se tannie se haarsalon in Oshakati begin werk.

“Sy wou hê ek moet met volwassenes se hare werk, maar ek wou met kinders werk en ek het net dit gedoen. Ek wou ook nog verder gaan studeer, maar kon nie in Windhoek ’n kreatiewe haarkursus kry nie en is dus Suid-Afrika toe. Daar is ek na ’n salon gestuur waar ek my prakties moes doen. Ek het agtergekom ek het alles wat hulle my wou leer al geken deur al die jare wat ek my eie hare gedoen het. Ek het Windhoek toe gekom om te begin werk.”

Aan die begin het sy verniet gewerk. Mense het haar gekontak en sy het na hul huise gegaan. Vyf jaar gelede het sy Gio Hair Studio by haar huis begin. Sy werk net met kinders. Die kamer is vol speelgoed, legkaarte en inkleurboeke; alles om kinders se aandag af te trek en hulle besig te hou terwyl Gina hul hare doen.

“Mens moet net geduld het. Kinders voel jou energie aan en as jy ongeduldig of omgekrap is, voel hulle dit. Wanneer hulle dalk bietjie moeilik is, los ek dat hulle begin speel of inkleur en dan gaan sit ek op die vloer langs hulle en doen hulle hare. Ek het nog nooit ’n kind gehad wie se hare ek nie kon klaarmaak nie.”

“Ek woon in Kleine Kuppe en ek ry tot in Otjomuise sodat Gina my dogter se hare kan vleg. Sy het die wêreld se geduld en ek sal nooit weer na ’n ander haarkapper toe gaan nie,” het ’n mamma gesê. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer