Haaie-span eers later bekend weens Covid-19
Haaie-span eers later bekend weens Covid-19

Haaie-span eers later bekend weens Covid-19

Rugby
Tinus van Staden – Die Haaie se spanaankondiging vir hul Superrugby Unlocked-wedstryd Vrydag teen Griekwas in Kimberley, is Woensdag uitgestel omdat die unie nog nie die uitslae van dié week se Covid-19-toetsing ontvang het nie.
Die span sal Donderdagoggend aangekondig word, het die Haaie in ’n verklaring bevestig.
“Volgens die Covid-19-protokol word die span elke week getoets. Daar was ’n vertraging en ons kan dus nie vandag die span bekend maak nie,” sê die Haaie in hul verklaring.
Vir wedstryde wat op Saterdae gespeel word, maak spanne gewoonlik hul wedstryd-23-talle op Donderdae bekend. As ’n wedstryd op ’n Vrydag plaasvind, stuur unies hul spanlyste Woensdae uit.
’n Woordvoerder van die Haaie het bevestig die oponthoud hou verband met die eerste ronde van toetse: “Daar was ’n vertraging by die laboratorium.”
Dit is dus nie ’n geval van sommige spelers wat positief getoets is in die eerste ronde van toetse, en toe ’n tweede toets moes ondergaan nie. Die Haaie weet nog nie of hulle enige positiewe gevalle het nie.
Die Haaie het nog twee wedstryde in die Unlocked-reeks oor – teen Griekwas en volgende week teen die Stormers. Hulle sal albei hul wedstryde moet wen as hulle die Unlocked-trofee wil verower. Trouens, hulle sal waarskynlik twee bonuspunte ook nodig hê en moet hoop die Pumas klop die Bulle volgende naweek.
Phepsi Buthelezi, die span se jong agtsteman, sê hulle weet wat van hulle verwag word, maar hulle sal Griekwas glad nie onderskat nie.
“Griekwas is ’n span met baie potensiaal. Ek ken hul hoofafrigter, Scott Mathie, nogal goed, want hy het my op skool afgerig. Ek ken ook baie van hul spelers,” sê Buthelezi.
“Ons sien hierdie wedstryd nie as ’n maklike wedstryd nie. Ons moet reg voorberei en die taak gaan verrig. Veral omdat ons in Kimberley gaan speel, want almal weet hoe taai dit is om daar teen Griekwas te gaan speel.
Buthelezi verwag ’n verwoede stryd by die afbreekpunte en het selfs ’n klein Haaie-geheim uitgelap: “Ek dink wat ons sal doen, is om hul oopkantflank (Gideon van der Merwe) te dwing om duikslae uit te voer, sodat hy nie balle kan steel nie.”
Hy sê die Haaie se voorspelers sal poog om te oorheers, sodat hul gevaarlike agterlyn moles kan maak.
“Ons weet ons moet op die voorvoet kom, sodat ons agterlyn ongelooflike drieë kan druk.”

FOTO
Sean Everitt, die Haaie se hoofafrigter. Foto Gallo Images

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer