Haai klap die sweep by viswaters
Haai klap die sweep by viswaters

Haai klap die sweep by viswaters

Des Erasmus
Des Erasmus - Toe ‘n opkomende hengelaar van die klub Sea Gulls (kus), mnr. Pieter van Aarde van Walvisbaai, laat Donderdagmiddag met ‘n sweep op Langstrand klap, kom die vissersgemeenskap van die ganse Namibië in beroering.

Sy tyding was ‘n baie skaars sambokhaai wat hy daar ná ‘n stryd van sowat 20 minute uit die see gehaal het.

Dis ‘n skaars haaisoort met relatief min tande, maar met ‘n massiewe stert.

Dié karwats gebruik ‘n sambokhaai om sy seekos plat te slaan en dan te vreet, waarskynlik die rede vir sy min tande. Tref die stert ‘n hengelaar se tou met die aas, is die lyn maklik met die enkele slag af. Word daar op die strand nie mooi met hom en versigtig met die stert gewerk nie, slaan hy oop waar hy tref. Bloedbek se dinge daai.

Die vorige rekord vir ’n sambokhaai was die ou grote van 33 kg wat Chris Orffer (junior) naby Pelikaanpunt gevang het. Dit was die dae toe gewigte nog met skale op die strand bepaal is. Die jong Chris se sambokhaai staan in die rekordboeke agter sy naam opgeteken.

In belang van bewaring het die skale van die meeste strande verdwyn en word ‘n sonderlinge vangs nou van die punt van die vis se neus tot by die knak in sy stertgedeelte gemeet. In die geval van Pieter se sambokhaai was die lengte 121 cm.

Die lengte in sentimeter word weer volgens ‘n betroubare formule bereken om die gewig van ‘n buitengewone vangs te bepaal.

In die geval van Langstrand se sambokhaai verteenwoordig die 121 cm ‘n gewig van 39,16 kg.



Pieter voldoen ook aan ‘n vereiste dat ‘n vangs vir rekorddoeleindes deur ‘n geregistreerde hengelaar behaal moet word.

Dis nou vir die rekordhouers om te besin oor wat laat Donderdag, so 19:00 se kant, by Langstrand gebeur het. Kleiner sambokhaaie as dié van Van Aarde en Orffer is wel al langs die Namibiese kus gevang, maar dit gebeur nie aldag nie.

‘n Mengsel van harder en makriel was die aas waarmee die vreemde vangs behaal is.



Langs Suid-Afrika se weskus suid van die Oranjerivier word heelwat sambokhaaie by hengelplekke soos dié van Langebaan gevang. Die sambokhaaie daar is baie kleiner as die enkeles wat langs die Namibiese kus voorkom.

Die besondere vangs word in hengelgeledere toegeskryf aan warmer water wat van die ewenaar af suid na ook die Namibiese kus ingestoot het.

Dit skep verwagtinge van leervisse en elwe wat by strande soos Myl 8, Myl 11 en selfs Myl 14 gaan uitkom.

Steenbras was vanjaar skaars in die Desemberseisoen, maar in die eerste week van 2018 het steenbras van 15 en 16 kg noord van Hentiesbaai tot by Myl 72 uitgekom.

Noord van Myl 72 was dit steeds kabeljou wat alles oorheers het met enkele van die blinkes wat tot 20 kg geweeg het.

Kommentaar

Republikein 2025-07-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer