Gunners soek wraak teen Young African
Gunners soek wraak teen Young African

Gunners soek wraak teen Young African

Sokker
Mighty Gunners is vasbeslote om hul neerlaag teen Young African tydens die finaal van die Namibiese Sokkervereni­ging se 2017 NFA-beker te wreek wanneer hulle môre in Gobabis vir die semifinaal van die NFA MTC Aweh-beker op die veld stap.

Gunners, van Otjiwarongo, hoop hul derde aanslag op die NFA-bekertrofee sal suksesvol wees.

Hulle het in 2013 teen African Stars in die eindstryd verloor en in 2017 opnuut die knie teen Young African in die finaal gebuig.

Gerhardt Hengari, afrigter van Gunners, sê sy troepe is gereed vir die slag by die Legare-stadion: “Ons is sedert die ronde van 32 besig met voorbereiding en het net een doel voor oë en dis 'n oorwinning.

“Ons het steeds omtrent 70 persent van die spelers wat in daai vorige twee finale verloor het. Ons het die ondervinding en regte geestelike ingesteldheid om tot in die finaal te vorder. Dit sal nie maklik wees teen 'n jong en vurige span wat tuis speel nie, maar ons was al in hierdie posisie en het ons huiswerk behoorlik gedoen.”

Blue Waters van Walvisbaai takel Civics in die eerste semifinaal om 14:00 en om 16:00 kom African en Gunners aan die beurt.

Die finaal sal op Saterdag 23 Oktober by die Vineta-stadion in Swakopmund gespeel word.

Die twee verloorders van die semifinale sal mekaar in Swakop vir die derde posisie pak. 'n Vertoonwedstryd tussen MTC en die media sal die dag se program in Swakop inlui.

Behalwe vir die aanloklike prysgeld is daar ook individuele toekennings vir doelwagter en speler van die reeks, topdoelskieter asook beste skeidsregter.

Asser Hara-Amseb van Gunners is tans met sewe doele in die voorste posisie, terwyl Lazarus Naruseb van Citizens met vier tweede is.

Die titelhouers sal met N$500 000 en die trofee wegstap. Die naaswenner steek N$250 000 in die sak en die derde en vierde spanne kry onder­skeidelik N$150 000 en N$100 000.

– www.nfa.org.na

Kommentaar

Republikein 2025-09-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer