Gru-ongeluk by Langstrand eis twee lewens
Gru-ongeluk by Langstrand eis twee lewens

Gru-ongeluk by Langstrand eis twee lewens

Twee bestuurders is opslag dood in ’n kop-teen-kop-botsing op die B2-roete naby Langstrand.
Elvira Hattingh
Otis Finck op Walvisbaai - Twee mans is Saterdagaand in ’n motorongeluk op die B2-roete tussen Walvisbaai en Swakopmund dood, terwyl nog ’n ongeluk gistermiddag in die omgewing van Otavi ’n ongekende aantal lewens geëis het.

Adj. komm. Erastus Iikuyu het die voorval by Walvisbaai bevestig.

“Na bewering het mnr. Michael Shikongo Nambombola in sy sedanvoertuig vanaf Swakopmund na Walvisbaai gereis, toe hy ’n motor probeer verbysteek het en in ’n kop-teen-kop-botsing betrokke was.

“Dit het omstreeks 20:37 in die omgewing van Langstrand plaasgevind.

“Die ander motor, ’n bakkie, het twee insittendes gehad, insluitend die bestuurder, mnr. Angelo Goliath.”

Volgens Iikuyu het die impak veroorsaak dat die bakkie omgeslaan en op sy dak beland het.

“Goliath is uitgeslinger en het op die voorruit van ’n derde voertuig – wat agter sy bakkie gery het – beland. Beide Nambombola en Goliath is opslag dood.

“Die passasier in die bakkie, ’n man, is ongedeerd; so ook die bestuurder en die passasier van die derde voertuig.

“Die oorledende se naasbestaandes is in kennis gestel. Die liggame is na die Walvisbaaise polisie-lykshuis geneem vir ’n nadoodse ondersoek. Die ondersoek duur voort en ’n saak van strafbare manslag, asook roekelose en nalatige bestuur, is geopen.”

In nog ’n voorval het ’n wit sewesitplek-sedanvoertuig gistermiddag op die pad tussen Otavi en Otjiwarongo teen ’n vragmotor gebots. Dit was teen saktyd nog nie bekend of daar enige sterftes of beserings was nie. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer