Groter hongersnood: 'Landbou moet prioriteite regkry'
Groter hongersnood: 'Landbou moet prioriteite regkry'

Groter hongersnood: 'Landbou moet prioriteite regkry'

Vida Booysen - Ná jare waarin hongersnood wêreldwyd stadig maar seker afgeneem het, is daar weer kommer dat dit in sommige dele van Afrika weer opvlam.

Die aantal mense wat voedselonsekerheid in Afrika ondervind, het net in 2017 van 220 miljoen tot 224 miljoen gestyg, volgens 'n verslag van die Verenigde Nasies se voedsel-en-landbou-organisasie (FAO) wat aan die einde van verlede maand uitgereik is.

Daarby het die voorkoms van ondervoeding in Afrika suid van die Sahara van 20,8% in 2015 tot 22,7% in 2016 gestyg.

“Dele van Afrika is in die ergste voedselkrisis sedert die Tweede Wêreldoorlog gewikkel,” waarsku Stephanie Hanson, senior visepresident van die One Acre Fund, 'n organisasie sonder winsbejag wat kleinskaalse boere help om winsgewend te wees.

Sy voeg haar stem by 'n hele aantal landboukenners wat waarsku die bedryf en sy finansiers moet aanpas om 'n komende krisis af te weer.

“Dit is moontlik om toe­komstige epidemies van hongersnood op die vaste­land af te weer, maar net as hulporganisasies die ontwikkeling van klein­skaalse boere ­prioritiseer.” Ook die FAO-verslag waarsku dat die ou sondaars – politieke konflik, droogte en lae internasionale pryse vir landbouprodukte – nie alleen die skuld vir die dreigende krisis kan kry nie.

“Ons moet die regte prio­riteite hê. Sommige van hierdie faktore is buite regerings se beheer, maar die skep van 'n landboubeleid wat toekomsgerig is, voedselsekerheid versterk en weerstand inbou, kan ons beskerm teen die skokke wat kom,” lui die verslag.

Hanson waarsku dat oes­opbrengste in Afrika suid van die Sahara al dekades laer as die res van die wêreld s'n is en dat daar weer gekyk moet word na die lae gehalte van saad en kunsmis waarmee kleinboere hier noodgedwonge moet werk.

“'n Belegging in landbou is een van die doeltreffendste maniere om hongersnood te beëindig en politieke stabiliteit te skep. Daar is 50 miljoen kleinboere in Afrika suid van die Sahara alleen, en hulle ondersteun ­miljoene meer mense.”

Sy noem die voorbeeld van Ethiopië wat in die 1980's afgryslike honger­snood beleef het weens 'n kombinasie van politiek onrus en droogte.

“Vandag is Ethiopië vreedsaam en die droogte is terug – die land het in 2016 die ergste droogte in 50 jaar beleef – maar die land het geen epidemie van hongersnood gehad nie.”

Volgens die hulporganisasie Oxfam kan dit daaraan toegeskryf word dat die regering beter ingerig was om voedsel en water aan miljoene mense te verskaf en omdat hy sy landbou-infrastruktuur opgeknap het en deur nuwe besproeiings- en drinkwaterstelsels die platteland toegang tot water gegee het.

“Vir meer as 'n dekade het die regering van Ethio­pië landbou 'n toppriori­teit gemaak en het bewys hoewel politiek honger­snood skep, kan ­politiek dit ook stopsit,” sê Hanson.

Kleinboere kan egter selfs sonder regeringsteun klimaatskokke temper. Slim boerdery soos wisselbou, diversiteit van gewasse, dekgewasse en kompos kan die uitwerking van klimaatuiterstes versag, sê Hanson.

“Skenkers en regerings in Afrika moet meer belê in programme waarmee kleinboere hul bates kan uitbou en die vaardighede kan aanleer om oeste oor die langtermyn te lewer.”

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-06-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer